Sport

Krieket Aandliga uitslae

THABAZIMBI – Vier wedstryde in die Trentyre Pro-20 Krieket Aandliga is die afgelope tien dae gespeel. HFM wen Quick Civils op 9 Oktober, Swartklip wen Bike Shop op 16 Oktober, HFM wen Amandelbult op 22 Oktober en Tyrecorp wen Bike Shop op 23 Oktober. In die wedstryd tussen HFM en Quick Civils het HFM eerste gekolf en is uitgehaal vir 124 lopies in 18,3 boulbeurte. Maurice behaal 40, Jaco 31 en Marco 16 lopies. Gert het goed geboul en 4 paaltjies laat kantel vir 13 lopies. Quick Civils word uitgehaal vir net 67 lopies in 13,5 beurte. Die talentvolle 13-jarige Gert van Quick Civils het 16 lopies aangeteken. HFM behaal ‘n bonuspunt en verdien 5 punte. Swartklip het Bike Shop op 16 Oktober gewen en 4 punte behaal. Swartklip het eerste gekolf en 162 lopies aangeteken danksy Robert se 61, Nelson se 19 en Coenie se 19 lopies. Die beste bouler was Christo wat 2 paaltjies geneem het vir die verlies van 48 lopies. Bike Shop is uitgehaal vir 107 lopies. Jurgie het 21, Ferdie 16 en Chris 14 lopies behaal. Die beste boulers tydens dié speelbeurt was William wat 3/25 en Robert wat 3/16 behaal het. Maandagaand het HFM Amandelbult gewen en 4 punte verdien. HFM het eerste gekolf en 204 lopies aangeteken. Jaco het 87, Rudo 28 en Maurice 24 lopies behaal. Johan en Padi neem elk een paaltjie. Amandelbult word beperk tot 185 lopies met Francois wat 64 en Gerhard 40 aanteken. Tommie, Jacques en Wimpie het elk een paaltjie laat kantel. Vier ligapunte is Dinsdagaand deur Tyrecorp behaal toe hulle Bike Shop gewen het. Tyrecorp het eerste gekolf en 164 lopies aangeteken. Willem (34 lopies), James (21) en Marius (15) het goed gekolf. Theuns het 3 paaltjies platgetrek vir 37 lopies, Pypies 3 paaltjies vir 24 lopies en Ferdie 2 vir 26. Bike Shop behaal altesaam 107 lopies met Chris wat 23 en Pypies 17 lopies aanteken. Willem (3/11), Borries snr (3/4) en James (2/7) het goed geboul. Die huidige puntestand plaas HFM bo-aan met 18, Tyre Corp tweede met 17, Quick Civils derde met 9 en die laaste vier plekke aan Blue Chip, Bike Shop, Amandelbult en Swartklip met 4 punte elk. In die New Ware Sosiale Liga loop die Laerskool voor met 12 punte, HFM se 0/15’s is tweede met 8 en TC Mining derde met 4 punte. Makoppa en Koedoeskop JB het nog geen punte aangeteken.