Groot opkoms vir Hardekool bergfietswedren

THABAZIMBI – Die Kumba Hardekool Bergfietswedren het die afgelope naweek te Ben Alberts Natuurreservaat plaasgevind en het 152 deelnemers van oral oor getrek. Inskrywings het stiptelik om 06:00 begin by ‘n alreeds bedrywige Ben Alberts, met die KFC springkasteel en PaintBall teikenskiet area vir die jongspan en ‘n uitstekende plate joggie om die deelnemers sowel as toeskouers te vermaak. Die koel briesie en bewolktheid in die lug, wat veral tot voordeel strek in die normaalweg bedompige bosveld, het verligting gebring aan al die swoeg en sweet, maar dit was die rivierwaterpunt van Helene Stevens en haar TUKS swemskool, geborg deur Bertie Joubert Eiendomme wat die moeë fietsryers daardie ekstra hupstootjie gegee het. Dié spannetjie het nie net water aangegee nie, hulle het sommer die deelnemers se fietse by die rivierwal uitgedra terwyl die deelnemer met ‘n powerade of twee kon asem skep. Vir al hul moeite en sportmangees loop hulle met die prys vir die beste waterpunt weg. Hierdie jaar se reuse sukses kan beslis aan die betrokkenheid van die gemeenskap sowel as dié van hul hoofborg, Kumba toegeskryf word. Mnr Aart van den Brink, mynbestuurder van Kumba Thabazimbi, wat ook die verrigtinge bygewoon het, het onder andere groot kontantpryse, vir die kompetisie beskikbaar gestel. Menige besoekers beplan reeds om vir volgende jaar se wedren terug te keer.