Sport

Alta seëvier met Bogeyspel

THABAZIMBI – Bonus Syferspel (Bogey) is nie vir almal ‘n populêre formaat nie, maar vir Alta Venter is dit egter ‘n gesogte een want verlede Saterdag wen sy ons plaaslike kompetisie met ‘n allemuntige +7. Jannie van Graan (+3), Derek Torlage (+2) en Vollie Volschenk (+1 op ‘n uittel) was die ander wenners. Op Brits, waar daar liga gespeel is kon die manne net nie skoonskip maak nie en glip Mooinooi met net een punt deur om die 2007 liga te wen. Thabazimbiklub se manne wat teen Amandelbult gespeel het was Johannes Selokela, Sam Manuno, Willie Barnard, Wiaan van der Westhuizen, Jacob Jordaan, Bill Pring, Nico van der Westhuizen senior en junior. Die rekenaar is nou so oulik dat dit outomaties ‘n voorgee aanpas soos Alta Venter Saterdag ervaar het. Daar is nog ‘n paar ander spelers wie se voorgees intussen ook aangepas is. Maak dus voor elke spel seker wat jou voorgee is. Dit gaan daarom in die toekoms ‘n vereiste wees dat spelers hulle tellings na elke spel moet invoer, ook as hulle op ‘n ander baan gespeel het. Die nuwe voorgee-kaarte word binnekort verwag, maar die ou kaarte werk nog steeds. Eerskomende naweek is dit die Bielie van die Bosveld, van Vrydag 26 tot Sondag 28 Oktober. Lede moet asseblief probeer om hierdie kompetisie te ondersteun. Die spelers wat so gereeld aan die Interaksie Gholf deelgeneem het moet kennis neem dat die finaal op Saterdag 3 November gespeel gaan word.