Teleurstelling in krieket semi-finale

THABAZIMBI- HFM se 0/15 en eerste krieketspanne het goed gevaar totdat albei spanne deur Pietersburg Hoërskool (PHS) in die halfeindwedstryde Saterdag in Polokwane geklop is. Die 0/15 het hul eerste semi-finale teen Merensky van Tzaneen Donderdag 11 Oktober met 7 paaltjies gewen toe die teenstanders vir 99 lopies uitgeboul is in die 29ste beurt. Die beste boulers was Reghardt Hefer met 4 vir 24 en Le Roux Bodenstein met 3 vir 18. HFM het die nodige lopies in 17 boulbeurte behaal. Kolwers wat presteer het, was Le Roux Bodenstein (46 n.u.n.), Juandré du Toit met 20 lopies, en Reghardt Hefer met 14 lopies. In die semi-finaal teen PHS het die 0/15’s met 93 lopies verloor. PHS het eerste gekolf en 186 lopies aangeteken. Almal is uitgehaal in die 46ste boulbeurt. HFM se beste boulers was Martin Meintjes met 6 vir 35 in 10 beurte en Juandré du Toit met 1 vir 32. HFM het 94 lopies aangeteken en is in die 33ste beurt uitgeboul. Die beste kolwer was Marco Nel met 15 lopies en Le Roux, Hanno, Dale en Reinhard met 11 lopies elk. Eerste span HFM wen hul voorlaaste halfeind-wedstryd teen Ben Vorster Vrydag 12 Oktober met 4 paaltjies. Die teenstanders het eerste gekolf en word uitgehaal vir 156 lopies in die 42ste beurt. Die beste boulers was Reghardt Hefer (3 vir 26 in 7 beurte) en Shaun Payne (2 vir 23 in 5 beurte). HFM behaal hul wenlopies in die 21ste beurt met nog 4 paaltjies staande. Die beste kolwers was Jaco Prinsloo met 64 lopies en Rudo Eysell met 40 lopies. Ook hulle het in die tweede semi-finaal die spit afgebyt teen PHS toe hulle met 10 paaltjies verloor het. HFM het eerste gekolf en almal is uitgehaal vir 52 lopies in die 20ste beurt. PHS behaal hul wenlopies in die 11de beurt.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.