Landbou rolspelers sit koppe bymekaar
Elana Greyling LEPHALALE – ‘n Plaaswerkerkompetisie en mentorskapprogram is twee van die blink idees wat tot praktiese uitvoering kom as landbou rolspelers koppe bymekaar sit. Georganiseerde landbou, bestaande uit Agri Lephalale, TLU SA en NAFU, en die Dept. Landbou in Lephalale hou nou al vir byna twee jaar saam vergadering om punte van gemeenskaplike belang te bespreek. ‘n Kompetisie vir die Plaaswerker van die Jaar word vanjaar vir die eerste keer aangebied. Werkgewers word uitgenooi en aangemoedig om hulle top werkers in te skryf. Inskrywings is beskikbaar by die Dept en die kantore van Agri Lephalale en Ellisras DLU. Enige plaaswerker binne die munisipale gebied van Lephalale kan deelneem. Groot pryse is op die spel. Vroeg in 2006 het die Dept. Landbou in Lephalale by kommersiële boere aangeklop vir hulp. Sedertdien het dinge baie stadig gevorder. Onlangs gedurende ‘n vergadering tussen die Departement en georganiseerde landbou is die program ge-evalueer. Vyf projekte is tans aan die gang in Lephalale. Daar is twee vroue boere met groente, een beesplaas en twee druiwe projekte. Me Lungi Ritshuri, hoof van die Dept. het vordering in die program aangekondig, spesifiek in druiwe-produksie. Een van die mentors, ‘n jong boer, Brandt Nel, het reeds op etlike kere met ‘n druiwe projek hand bygesit. Druiwe is op die plaas Hoornbosch gevestig met die oog op ‘n uitvoerboerdery. Kundiges van die Wes Kaap het die projek ook onlangs besoek vir ‘n konsultasiesessie. Dit is een van twee druiwe-projekte tans in die pyplyn. Die terugvoer is ongelukkig nie op hierdie stadium positief nie. Op die ander plaas is druiwe nog glad nie natgelei sedert dit aangeplant is nie, ten spyte van die feit dat daar van die beste toerusting verkrygbaar beskikbaar is. Die belangrikste eienskap van ‘n boer, volgens die vergadering, is die vermoë om te werk, tweedens is die regte kennis en voldoende opleiding nodig. En in die derde plek kom toerusting en beginkapitaal ter sprake. Basiese reëls en beginsels is opgestel om seker te maak dat die program ‘n kans op sukses het. Dit is bedoel om beide die gewillige opkomende boere te help en die mentors te beskerm. Me Ritshuri het mnr Masaka Mabilo van die Limpopo Agricultural Business Development program voorgestel. Hierdie program is ‘n gesamentlike poging deur die provinsiale regering en die Flaamse regering. Die doel is om studente op te lei in bestuursvaardighede, boekhouding en rekenaarvaardighede. Alhoewel die vergadering saamstem dat hierdie vaardighede belangrik is, is dit van geen nut as daar geen boerdery is om te bestuur nie.