Kop-aan-kop botsing eis lewe
NORTHAM – ‘n Man van Northam is dood en twee mense van Setaria ernstig beseer in ‘n kop-aan-kop botsing Dinsdag middag sowat 17 km buite Northam op die Thabazimbi-pad. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek. Die ongeluk het gebeur toe die bestuurder van een voertuig ‘n reeks motors verbygesteek het en nie betyds tussen twee voertuie, waarvan een ‘n bus, terug in sy eie baan kon beweeg nie. Twee insittendes van die aankomende voertuig (‘n pa en dogter) is in die intensiewe eenheid van die Rustenburg Pegalary Hospitaal en een sterk aan in Thabazimbi Hospitaal. Kommer bestaan veral oor die toestand van die 12-jarige Zani du Toit wat nog in ‘n koma is nadat sy ernstige kopbeserings opgedoen het. Haar pa, Demsie du Toit, het veelvuldige beserings en breuke aan sy bekken en bene opgedoen. Saam met hulle in die motor was Zani se ouma, alom bekend as tannie Kitta (Jacobs), Zani se ma, Marietjie du Toit en ‘n susterskind, Taylor de Beer (4 jaar oud). Tannie Kitta herstel van haar beserings in die Thabazimbi Hospitaal.