General

Kliniek vir vroue en kinders

THABAZIMBI- ‘n Kliniek genaamd “Cradlekind” is die geesteskind van twee geregistreerde verpleegkundiges van Thabazimbi wat die behoefte van hoofsaaklik vrouens en kinders in die gemeenskap wil aanspreek. Voorgeboorte klasse, nageboorte-sorg, immunisasie, borsondersoeke, papsmere en selfs toetse vir prostaatkanker is van die dienste wat by die kliniek, geleë tussen Rooibok- en Elandstraat, beskikbaar sal wees. Gedurende Oktober is borsondersoeke gratis. Die twee susters aan die stuur van sake is Carla Joubert en Sindy Nagel. Volgens hulle bestaan daar ‘n behoefte aan kennis van gesondheidsrisikos wat die moderne lewe en lewenstyle inhou. Waar nodig word kliënte na die geneesheer van hul keuse verwys. MIV-toetsing word streng vertroulik uitgevoer. Aanbevelings oor MIV-behandeling en berading vorm deel van die diens rakende hierdie belangrike en groeiende gesondheidskwessie. Voorligting oor gesonde leefstyl, raad teen veroudering deur Dr Vanessa Stohr, en kursusse in noodhulp word aan besighede en maatskappye verskaf. Die kursus is geakkrediteer by Health & Welfare Seta, Dept van Arbeid en Resussitasie Raad van Suid – Afrika. Voorts bied die kliniek bejaardesorg en doen tuisbesoeke waar nodig.