Kleuters by Kleuter Akademie kry brandweer opleiding
THABAZIMBI – Groot opwinding het verlede Donderdag, 4 Oktober, by Kleuter Akademie Kleuterskool geheers. Kleuterhartjies het wild geklop toe die groot rooi brandweerwa met sy loeiende sirene daar stilhou. Die brandweermanne het al die pad van Amandelbult gekom en het ‘n baie geslaagde lesing vir die kleingoed in hul eie verstaanbare taal aangebied. Elke kleuter het ook die geleentheid gekry om op die brandweerwa te klim. Sommige kleuters het deur geglip en selfs vir ‘n tweede en derde keer op die brandweerwa geklim! Een van die klaskamers was vol rook geblaas met ‘n rookmasjien. Die kleuters is gewys hoe om op hulle knieë agter mekaar in en uit die klas te kruip. Dit was ‘n baie effektiewe manier om die kleingoed te leer hoe om op te tree tydens ‘n brand. Hulle is onder andere geleer dat die suurstof op die vloer vlak is en om nie in ‘n kas of onder ‘n bed weg te kruip nie. Na hierdie lesing weet hulle dat sulke plekke gevaarlike skuilings is. Die onderwyseresse het daarna ‘n kits kursus in die werking van brandblussers gekry. ‘n Brand was op ‘n veilige plek gestig en die onderwyseresse moes dit onderskeidelik blus. Die kinders het dit terdeë geniet en was heel hartseer om van “oom brandwerman” afskeid te neem. Ter afsluiting is die brandweerwa se sirene weer vir oulaas aangeskakel. Hierdie kleuters sal nie gou hierdie kuiertjie van die brandweermanne vergeet nie. Die projek word deur ERA Eiendomme by die skole aangebied om kinders meer bewus te maak van brandgevare. Navrae kan gedoen word by ERA Eiendomme se kantoor by 014- 7722628.