Sport

Groot veld met Bertus Britz geborgde Gholfdag

THABAZIMBI – Die Bertus Britz Borgdag was verlede Saterdag vir die derde jaar geborg deur Johan en Rentia Britz van Potchefstroom. Daar was ‘n groot veld en die formaat was Individuele Punte Stableford. Daar was baie duursame pryse en Johannes Selokela, met 41 punte vaar die beste. Jakkie van der Wateren (40) en Piet Venter (38) was die ander manne wat ook bo hulle voorgee gespeel het. Die weer was ideaal vir gholf en die baan in ‘n uitstekende toestand soos die goeie punte wat aangeteken is bewys. Die halfweg verversings en die aand se braai is deur Griet van der Merwe en haar span aangebied en was ook puik. Ons grootste dank en waardering gaan aan Johan en Rentia Britz vir die borgskap, Eddie Williams en sy span vir die baan, die Komitee vir die reëlings en al die spelers wat deelgeneem het. Die dames bied volgende Saterdag se gholf aan. Die formaat gaan ook Individuele Stableford wees en daar gaan ook van so tien uur af afgeslaan word. Die manne word almal uitgenooi om in die dag se gholf te kom deel. Dit gaan voorwaar ook ‘n aangename ervaring wees. Sondag 14 Oktober speel Toppie Olivier (Afd A), Piet Venter (Afd B) en Mike Norje (Afd C) in die Gauteng Noord se Interklub kompetisie op Pebble Rock. Dit is die oudste toernooi in Gauteng Noord en Thabazimbi het ook al die trofee ‘n keer gewen. Hierdie drie manne staan ‘n goeie kans om dit weer te doen en ons wens hulle sterkte toe. Die naweek van Vrydag 26 tot Sondag 28 word die Bielie van die Bosveld op ons baan gespeel. Spelers kan aan enige enkel dag deelneem of al drie dae speel. Die Bielie word oor Saterdag en Sondag beslis. Dit is baie aangenaam om te sien hoe gou die spelers gehoor gegee het aan die Komitee se oproep tot beter dissipline. Daar was verlede Saterdag net enkele kaarte wat nie 100% korrek was nie. Onthou met enige Individuele kompetisie moet elke speler ‘n telkaart voltooi met sy naam, datum en kompetisie op. Die belangrikste is dat elke lid sy lidnommer en voorgee ook moet invul, anders gaan u gediskwalifiseer word.