Agri Lephalale positief proaktief
Elana Greyling LEPHALALE – Agri Lephalale se leuse: “Tuiste van die dinamiese boer”, het in 2007 beslis tot uitvoere gekom. Ten spyte van omstandighede wat ver van ideaal is binne die landbousektor, het die organisasie onder voorsitterskap van mnr Francois van den Berg gepoog om sover moontlik pro-aktief op te tree. Baanbrekerswerk is gedoen met die opstel van ‘n beleidsdokument vir munisipale eiendomsbelasting. Volgens Van den Berg, ook voorsitter van die Landelike Belastingbetalersforum (LBF), is daar drie belangrike mylpale wat bereik is: Eerstens is daar voordele vir wildboere beding gelykstaande aan ander boerderybedrywe. Alhoewel daar in Limpopo vordering gemaak is om wildboere weer onder Landbou en nie meer onder Toerisme te laat val nie, is Lephalale die enigste munisipaliteit wat hierdie vergunnings toegestaan het. Tweedens is daar ‘n in-diepte gesprek met die munisipale waardeerder, mnr Johan Enslin, gevoer. Beginsels van waardasie is met hom bespreek. Die LBF is tevrede dat ‘n bekwame waardeerder aangestel is. Derdens is die afslag wat beding is op die nuwe waardasies, wat verbeterde waarde insluit, beduidend. Na waardasie, sal die totale inkomste uit die landbousektor vergelyk word met die huidige inkomste en die tarief sal dienooreenkomstig aangepas word om dit konstant te hou. Hy het alle grondeienaars weer ernstig gewaarsku om hul waardasies na te gaan sodra die waardasierol vroeg in 2008 beskikbaar word. Nog ‘n wetlike aspek wat bespreek is, is Waterbronbestuursbelasting wat ‘n tarief op alle waterregte hef. Dit word volgens Agri Limpopo onbevredigend bestuur. Die belasting is eensydig ingestel onder twyfelagtige prosedures. Die moontlikheid word tans ondersoek om ‘n beginselsaak aanhangig te maak, Vodacom is ook gedurende die jaar nader geroep om die swak opvangs en probleme met telefoonverbindings te bespreek. Na onderhandelings en ‘n gesamentlike poging binne die gemeenskap, het Vodacom drie seltorings in die gebied goedgekeur. Prosedures is begin en daar behoort binne die volgende twee jaar ‘n groot verbetering in die gebied te wees. Goeie samewerking is met die plaaslike Departement van Landbou bewerkstellig. ‘n Kompetisie vir die Plaaswerker van die Jaar is pas geloots. Agri Lephalale voel dat die bydrae wat plaaswerkers in die bedryf lewer erkenning moet ontvang en beloon word. Lede van Agri neem ook deel aan die Mentorskapprogram waar opkomende boere met raad en advies bedien word. Die program is tans in ‘n beginstadium, maar insette is reeds gelewer op die gebiede van wild, bees en druiweboerdery. Positiewe samewerking met die SAPD was in 2007 hoog op die prioriteitslys. Heelwat lede het as reserviste aangesluit en neem aktief deel in die beveiliging van hul omgewing. ‘n Afsluitingsfunksie word beplan vir 23 November om hierdie jaar op ‘n hoë noot af te sluit.
