Thabazimbi Vrou van die Jaar kuier by VLU
THABAZIMBI – Thabazimbi Vrou van die Jaar, Gerda Halgryn, het Donderdag 13 September 2007, by Anna Milton se huis ‘n praatjie gelewer oor “Baan die weg vir vroue” wat ook die VLU Noord se tema vir die jaar is. Gerda se passie vir die lewe is kinders. Sy het al verskeie kinders help grootgemaak as pleegmoeder. Haar motiveringsboodskap aan die dames is, Wees standvastig, behou waardes, dit hang van jouself af wat jy in die lewe bereik, bou ‘n goeie verhouding met kind en huwelik. Sy bied gratis terapie sessies aan vir kinders en volwassenes en enige persoon wat ‘n behoefte het om uiting te gee aan hul probleme kan haar gerus skakel. Elke dame het met ‘n versierde piekniek mandjie opgedaag. Patricia Morris het die prys gewen vir die mooiste mandjie. Dit was ook die tak se boomplantdag. ‘n Luiperdboom, geskenk deur Aandrus Kwekery, is in Anna Milton se tuin geplant. Die dames het beurte geneem om die gat toe te gooi, maar Susan du Preez het al die dames uitgestof met haar baie skeppe sand. Die tak se volgende vergadering word gehou op Donderdag, 11 Oktober om 09:00 by die Kunste Grot. Belangstellendes kan haar by 084 436 4429 skakel.
