Gemeenskapsprojek skop af op Lentedag
THABAZIMBI – ‘n Gemeenskapsprojek genaamd Projek GinA is deur ‘n inwoner van Thabazimbi op 1 September 2007 in die lewe gebring. Projek GinA, wat staan as Geloof in Aksie, bied enigeen wat voel dat hulle iets vir hul medemens wil doen die kans om terug te ploeg in die gemeenskap en minderbevoorregte mense van ‘n kruidenierspakkie te voorsien. Die lewenskoste word al hoe duurder en daagliks is daar mense wat meer en meer swaarkry. Dit is ‘n realiteit in Thabazimbi al weet almal nie daarvan nie, en sommige mense is te skaam om dit te sê. Suzette Brits, ‘n nuweling in Thabazimbi, het hierdie projek al die pad van Alberton gebring waar so voorheen by ‘n soortgelyke projek betrokke was. Die projek het aanvanklik in die NG Kerk begin, maar het ook nou na ander kerke sowel as na Northam uitgebrei. Die projek behels dat emmers met ‘n kruidenierslysie met ‘n inhoudskoste van nagenoeg R150 na afloop van die oggend erediens in die kombuis van die NG Kerk, sowel as by Suzette afgehaal kan word. Enige belangstellendes kan haar gerus kontak vir meer inligting aangaande die profek asook om reëlings te tref indien u weet van ‘n gesin of persoon sodat die emmers in ontvangs geneem kan word. Indien u belangstel om betrokke te raak hierby, kan Suzette gerus gekontak word by 014 777 2040 of 082 853 2314.