Sport

“Foursomes” knou toe nie die vriendskap

THABAZIMBI – Met “Foursomes” speel ‘n paar een bal vir 27 putjies, om die beurt, en dit kan nogal ‘n goeie vriendskap knou. Dit was blykbaar nie verlede Saterdag ‘n probleem nie. Jakkie van der Wateren en Jannie van Graan het goeie vriende gebly en wen met ‘n bruto telling van 109 houe. Kort op hulle hakke met 110 was Derek Torlage en Piet Venter. Die nuwe voorgee-stelsel en die rekenaar is nou ten volle in werking en lede sowel as besoekers sal maar gewoond moet raak aan die vereistes wat hulle met elke spel sal moet nakom. Indien spelers nie hulle deel doen nie plaas dit baie druk op die komitee en die persoon verantwoordelik vir die voorgees. Daar sal ook streng by die toevoer van straf rondte tellings gehou word as daar nie by die voorskrifte gehou word nie. Gholf is ‘n besondere spel met streng reëls en etiket voorskrifte en ons wil daardie tradisie in ons klub behou. Oktobermaand is weer ‘n baie bedrywige gholfmaand. Die drie baie belangrike datums wat elkeen in rooi moet aanteken is die Bertus Britz Borgdag op Saterdag 6 Oktober. Dit was elke jaar nog ‘n baie besondere dag en lede moet asseblief vroegtydig inskryf. Dan beloof die dames dat hulle ook ‘n groot dag op Saterdag 13 Oktober vir veral die manne gaan aanbied. Die Bielie van die Bosveld wat in die verlede spelers van alle oorde gelok het word oor drie dae vanaf Vrydag 26 tot Sondag 28 Oktober aangebied. Spelers kan al drie dae speel of enige een van die drie. Na die heerlike en baie welkome reën gaan die baan binne dae ‘n nuwe karakter kry en gaan balsoek in die rof weer baie manne frustreer. Kom speel dus gerus in hierdie mooiste maand Oktober op die mooiste baan in die geweste en geniet die ontluikende Bosveld op sy mooiste.