General

Bosverdigting – Boeredag goed ondersteun

SENTRUM – Nieteenstaande die reënerige weer Vrydag, het boere van die omgewing op Sentrum saamgetrek om meer te hoor van hoe bosverdigting beheer en bekamp kan word. Die dag het koud begin maar daar was gelukkig warm drink goedjies om die boere warm te hou. Die VLU het gesorg vir toebroodjies en later kon etes gekoop word wat alles ten bate gegaan het vir die VLU se fondsinsameling. Verskeie sprekers het die dag opgetree. Die eerste spreker was Prof Nico Smit van die Universiteit van Vrystaat wat reeds vir die afgelope 30 jaar besig is om ‘n oplossing te soek vir die bosverdigting in Suider-Afrika. Volgens hom is een van die groot probleme die negatiewe aspekte geassosieer met bosveldverdigting. Daar is twee oplossings, meganies of chemies. Groot sukses is behaal met meganiese grondverwerking waar ‘n aantal bome op strategiese plekke uitgehaal word om die grasveld weer kans te gee om te groei. ‘n Groot toename aan grasproduksie was toenemend sigbaar, maar is ongelukkig nie ‘n langtermyn oplossing nie. Dan is daar chemiese behandeling wat ook sukses behaal het, maar ook net op die korttermyn aangesien die behandelde bome en bosse die volgende seisoen net weer vinniger teruggroei. Dit vererger dan die probleem. Prof Nico het daarop gewys dat daar ‘n duidelike begrip moet wees van die faktore wat bydra tot bosverdigting in die bosveld. Swak veldbestuur dra daartoe by dat oorbewyding ‘n groot faktor kan wees wat veroorsaak dat daar ‘n gebrek aan weiding bestaan om die veld vir ‘n seisoen of twee met rus te laat. In die natseisoen is dit belangrik om die grond goed te benut op die regte manier en minder van sporadiese warm vure gebruik te maak in die droë seisoene. Verder moet die waarde van die bronne, waaronder voedsel vir blaareters, subhabitate en die kroon van groter bome, grond vrugbaarheid en nutriene deeglik in oorweging geneem word. Boere moet die ekosisteemdinamika verstaan en stabiliteit aan die veld teruggee, met inagneming van die boom tot boom kompetisie. Die boer moet weet wat hy wil bereik en hoe om dit te bereik. Deeglike beplanning is uiters noodsaaklik en, natuurlik, die bewaring van groot bome. Andrè Neetling het die boere met emosie en passie toegespreek, ‘n duidelike bewys van sy liefde vir die veld en alles daarin. Sy siening is: “boer met gras”. Volgens hom het hy alles probeer, van die maklikste tot die moeilikste maniere, om die veld te herstel. Van bespuiting tot baie hande arbeid. Hy het baie bome uitgehaal, baie bosse afgekap, gif gegooi en sukses behaal, maar die oplossing was van korte duur. Die beste oplossing was om die afgekapte takke op plekke te pak waar hy nie wil hê diere moet wei nie. Dit het voëls terug gebring en, na ‘n seisoen of wat, het die veld op sy eie herstel. ‘n Probleem wat ontstaan met die ontbossing is die verwydering van die uitgehaalde en afgekapte bome. Hier bied Biomass Crusaders die oplossing. Pieter Joubert het met navorsing gesien hoe laekoste steenkool gebruik word vir kook en die verskaffing van hitte in die lae-inkomste klasse. Op sy beurt veroorsaak dit ondermeer asemhalingsprobleme en sterftes deur vure. Diegene wat die meeste hierdeur geraak word is vroue en kinders. Die oplossing is eenvoudig. Biomass verwyder die afval bome en bosse en omskep dit dan in houtgas, houtbrikette en groen charcoal. Houtgas is ‘n eenvoudige manier om sekere gasse uit plante te haal en dit te omskep om kos mee te kan maak asook vir verhitting. Houtbrikette word van afgekapte bome gemaak in eco– vriendelike skoon “petrol” vir die maak van kos en hitte omskep. Groen charcoal is veral gebruikersvriendelik in die opsig dat al die toksiese gasse verwyder is en vir rookvrye vure sorg. Almal sal iets benut uit die nuwe produk wat saamgepers en versprei word in plastiekemmers. Buiten dat dit nie jou hande swart smeer nie, skakel dit ook bors- en oogprobleme uit. Daarby is dit die helfde goedkoper as gewone steenkool, en is verkrygbaar by agente landswyd.