Sanlam gee ruim vir plaasveiligheid
Sanlam het sy betrokkenheid van byna nege dekades by die landbou bevestig met ‘n bydrae van R1,5 miljoen vir plaasveiligheid oor ‘n tydperk van drie jaar. Mnr Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds, sê die landbougemeenskap het groot waardering vir Sanlam se volgehoue ondersteuning. “Gedurende die afgelope jaar is ‘n toename van 25 persent in plaasaanvalle ervaar. Dit gee ‘n aanduiding van die voortdurende gevaar waarin die landbou moet voortgaan om te produseer en voedsel van goeie gehalte aan die verbruiker te voorsien. Met die ondersteuning van Sanlam sal die fonds ‘n verdere bydrae kan maak tot plaaslike beveiligingsinisiatiewe van die landbougemeenskap. Verder kan die fonds help om die landbou, wat ‘n nasionale bate is, te ondersteun om almal wat hoofsaaklik daarvan afhanklik is, in staat te stel om in groter veiligheid hulle werk te kan doen”, sê hy. Sanlam se uitvoerende hoof, dr Johan van Zyl, sê die uitbouing van Suid-Afrika se landbougemeenskap is noodsaaklik vir ekonomiese sukses, en Sanlam se bydrae tot die beveiliging van die sektor is deel van die maatskappy se groter visie om alle Suid-Afrikaners by te staan op hulle pad na welvaartskepping. “Dit bevestig ook ons erns om in hierdie mooi land van ons ‘n verskil te maak,” sê Van Zyl. Agri SA dui aan dat die meeste aanvalle (90%) wat op die landelike gemeenskap gemik is, rooftogte is en dat die brutaliteit wat daarmee gepaard gaan, skokkend is en die landbougemeenskap se grondwetlike regte tot vryheid en sekerheid van persoon skaad. Agri SA is veral bekommerd oor die toename in eiendomsmisdaad op plase wat groot finansiële verliese vir boere tot gevolg het. Misdaad op plaasvlak kos die landbou meer as R1 miljard per jaar en sluit die diefstal van vee, plaasprodukte, diefstal van insette en plaastoebehore in. Grobler sê deur die ondersteuning van meer as 75 landelike beveiligingsprojekte het die fonds reeds verskeie lewens gered en baie hartseer en trauma voorkom. “Met die ondersteuning van vennote soos Sanlam sal ons voortgaan om op ‘n pro-aktiewe wyse landelike beveiliging te bevorder en ‘n verskil te maak aan die lewensgehalte van die landelike gemeenskap.”
