Oues sit vir Jonges ore aan
THABAZIMBI – Voor verlede Saterdag se spel was daar ‘n paar nat-agter-die-ore manne wat groot monde en hoop gehad het vir die Jonges teen die Oues. Ervaring bly egter maar op alle terreine onvervangbaar, daarom dat die telling dan ook 241 teenoor 215 vir die Oues was. Die indiwiduele wenners was Piet Venter (45), Marina van der Wateren (44), Pietie Terblanche (41) en Jakkie van der Wateren (40 op ‘n uittel). Op Zebula, waar Ettiene le Roux en Derek Willats gaan uitspeel het vir ‘n plek om in Spanje te gaan speel, het Derek tweede gekom en Ettiene sesde. Jammer manne, dit was darem so amper. Sodra die nuwe voorgee-kaarte hier is gaan daar streng by die nuwe voorgee voorskrifte gehou word. Spelers sal hulle tellings dan slegs met die kaart kan invoer. Daar is nou voorsiening gemaak om net nege putjies se tellings te voer. Alle telkaarte moet egter nog ook in die kassie gelos word. Spelers kan egter met die bestaande kaarte wat steeds geldig is oefen om aan die prosedure gewoond te raak. Oktobermaand se program lyk so: Maandag 01-10: Komitee-vergadering om 17:30, Vrydag 05-10: Interaksie gholf, Saterdag 06-10: Bertus Britz Borgdag, Saterdag 13-10: Dames se Borgdag. Sages bied hulle Sanlam Kankerdag aan op Koro Creek (Nylstroom), Saterdag 20-10: Liga op Brits. Speel teen Amandelbult, Vrydag 26-10 tot Sondag 28-10: Bielie van die Bosveld. Die Pick ‘n Pay Sundowner is dan ook elke Woensdagmiddag aan die gang en word nou weer oor nege putjies gespeel. Die baan is pragtig en die weer heerlik. Daar is dus geen rede waarom daar nie elke Saterdag 140 spelers op die baan kan hê nie. Komaan, manne en dames, waardeer die klimaat solank julle die genade, krag en gesondheid het.
