Ongeluk eis twee lieflike susters
THABAZIMBI – ‘n Sombere atmosfeer hang oor Thabazimbi na die skokkende nuus dat twee pragtige susters op die dorp se stemme nou stil is. Die ongeluk wat die lewens van twee susters, Bianca en Meroeschka Schoeman geeis het, het Dinsdag 25 September 2007 gedurende die laatmiddag ongeveer 17 kilometer buite Thabazimbi op die Brits pad plaasgevind. Hulle was oppad terug vanaf Pretoria toe die ongeluk gebeur het. Na bewering het een van die voertuig se bande gebars en het Bianca, wat bestuur het, beheer oor die voertuig verloor. Die voertuig het gerol en aan die brand geslaan. Albei sussies is op die toneel oorlede. Meroeschka was 16 jaar oud en Bianca sou vandag, 28 September 2007, 19 jaar oud geword het. Hulle was die enigste kinders van Annelize en Johan Schoeman van Thabazimbi. Meroeschka was ‘n Graad 10 leerder aan Hoërskool Frikkie Meyer. Sy het haar skoolloopbaan in Thabazimbi begin en op akademiese gebied het sy goed gevaar. Sy het ook hokkie gespeel en het al Provinsiale Kleure in korfbal verwerf. Bianca het haar skoolloopbaan by Hoërskool Frikkie Meyer voltooi. Sy het hokkie gespeel en akademies uitgeblink deurdat sy vanaf Graad 8 tot en met Graad 12 elke jaar onder die Top 10 leerlinge geval het. Bianca was besig met haar 1ste jaar B.Com. Rekeningkunde aan Universiteit van Pretoria. Ter perse gaan was daar nog geen begrafnisreëlings getref nie. Die Schoeman familie wil graag almal bedank vir hulle bystand en hulp in hierdie tyd.