Kinderregte belangriker as tronkstraf
KAAPSTAD. – Die belang van kinders, soos dit in die Grondwet beskerm word, sál voortaan in elke hof in die land voorkeur geniet voordat ’n hof ’n enkelouer tronk toe mag stuur. Dié uitspraak gister, 26 September, in ’n verdeelde konstitusionele hof – sewe regters teen drie – bring “’n hele nuwe regsbedeling” in Suid-Afrika mee. Prof. Trynie Davel, direkteur van die Sentrum vir Kinderreg aan Tuks, het in reaksie op die uitspraak gesê dit is grondverskuiwend, dat sy uiters verheug daaroor is en dat howe voortaan twee keer sal moet dink voordat hulle jong kinders as’t ware saam met hul (misdadige) ouer straf deur hulle van die sorg van die ouer en ’n huis te ontneem. Die meerderheidsuitspraak, gelewer deur regter Albie Sachs, stel dit trouens duidelik: “Gefokusde en ingeligte aandag móét aan die belange van kinders (van enkelouers) gegee word tydens die oplegging van vonnis. Die doel is om te verseker dat die hof wat vonnis, in ’n posisie is om voldoende aandag te gee aan alle faktore, insluitende die belange van kinders as die enkelouer tronk toe gaan. “Dit móét voortaan ’n standaardproses in alle howe wees waar vonnisse opgelê word. In die mate waartoe die proses in die howe tans (wat kinderregte betref) tekort skiet, vereis behoorlike nakoming van grondwetlike regte (soos dié van kinders) ’n verandering in die vonnisopleggers se gedagtegang.”