General

Belangrikheid van wildboerdery uitgelig

THABAZIMBI – “September is Erfenismaand en het reeds afgeskop met Lentedag en Boomplantdag en, Marakele is deel hiervan,” aldus raadslid Lucas Matlou, Burgemeester van Thabazimbi Munisipaliteit tydens die amptelike viering van die SANPark week in die Marakele Nasionale Park. Hy het verder daarop gewys dat die Thabazimbi Munisipaliteit trots daarop is om deel van Marakele te kan wees. Hy het ook daarop gewys dat Marakele nie die enigste bewaringsgebied in die omgewing is nie. So is daar verskeie plekke waar die Bakgatlastam heen getrek het agter weiding vir hul vee aan en ook die grotte naby Rooiberg wat deur die swart voorsate as plek van aanbidding gebruik is. Thabazimbi is een van die gebiede in die land met die meeste wildboere. Hierdie produkte word egter nie plaaslik aangewend nie en is dit gewoonlik die taxidermie en vleishandelaars in die stad wat voordeel hieruit geniet. Net so is daar ook nie ‘n plaaslike toerismeroete nie. Al wat die oorsese besoeker saam met hom huis toe neem is gewoonlik net die wildtrofee en geen herinnering aan die natuurprag van hierdie wêreld nie. Matlou het dit ook genoem dat die Departement van Landbou tans besig is om die moontlikheid te ondersoek om wildboerdery as ‘n volledige komponent van boerdery by hulle in te lyf. Dit sal baie voordele vir die wildboer sowel as vir sy werkers inhou. Mnr Matsima Makgakala, Streeksbestuurder van SANParks, het in sy toespraak daarop gewys dat bewaring gewoonlik eers op die punt van uitroeiing toegepas word. Hy het gesê as dit nie vir die jagkomponent was nie, daar nou aansienlik minder wild sou gewees het. Jag het waarde tot wild toegevoeg en as gevolg hiervan het wildboere hul beskikbare wild tot maksimum voordeel vir hulself begin aanwend. Om dit te kan doen, moet bewaring van hierdie wildspesies ‘n groot rol speel. Hy het dit ook beklemtoon dat Marakele absoluut deel moet word van die totale Thabazimbi opset. Mense wat reeds in die gebied is moet eerder ‘n rol speel in die ontwikkeling van die gebied eerder as om mense van buite te betrek. Een van hierdie moontlike ontwikkelings is die daarstelling van ‘n dagbesoekerskamp waar plaaslikvervaardigde produkte geredelik aan die besoekers beskikbaar gestel kan word.