Trokke loop van pad – swaai uit om ongeluk te vermy
THABAZIMBI – Daar is nog mense wat alles sal doen om ander mense se lewens te spaar. Dit is verlede Donderdag, 13 September bewys nadat 2 Quality Crete sement trokke in ‘n ongeluk betrokke was nadat hulle moes uitswaai om ‘n noodlottige ongeluk te voorkom. Volgens Nico Henning, die bestuurder van die trok, was hy besig om ‘n sement trok wat vol sement was te sleep aangesien dié se motor gebreek het. Hy was onderweg vanaf Northam na Thabazimbi en was bewus van die padwerke daarnaby en het vroegtydig begin spoed verminder. Die ongeluk het omstreeks 15:30 plaasgevind toe ‘n passasiersmotor voor hom skielik rem aangeslaan het. Nico moes vinnig ‘n plan maak, anders sou hy met die trok bo-oor die motor gery het. Hy het versigtig van die pad af beweeg, maar die agterste trok wat hy gesleep het, het begin gly en daar was niks wat Nico aan die situasie kon doen, met die ekstra gewig agter hom nie. Teen die skuinste van die pad het die twee trokke omgeslaan. Niemand is erg beseer in die ongeluk nie, alhoewel die voertuie baie skade opgedoen het. Die trokke is daar vir die nag gelaat en eers die volgende dag met behulp van ‘n hyskraan opgelig.