Somerweer sigbaar by die gholfbaan
THABAZIMBI – Dit lyk of die somer sommer skielik op ons is. Die gholfbaan is pragtig, net die steekvlieë wat mens wil opvreet. Saterdag se wenners hier was Alta Venter met 38 punte. Met ‘n uittel op 36 was die ander wenners Vollie Volschenk, Willie Barnard en Louise van Graan. Op Swartklip het die manne liga teen Rooiberg gespeel en gewen. Jacob Jordaan, Ettiene le Roux, Piet Venter, Jakkie van der Wateren, Jannie van Graan , Jan-Floris van der Wateren, Bill Pring en Kobus Snyman is die manne wat daar ons naam hoog gehou het. Die hele voorgee-stelsel die land oor is opgegradeer. Ons het nou ook ons nuwe rekenaar gekry, wat allerhande nuwe dinge vir ons lede gaan beteken. Eerstens beteken dit dat jy nie weer as lid sal kan speel as jy nie eers jou kaart geswiep het nie, selfs al is jy hoe bekend of belangrik. Ons kry ook binne die volgende week of so nuwe kaarte. Die huidiges sal na einde September nie meer werk nie. Jy sal ook nie by ‘n ander klub as ‘n ge-affilieerde lid kan speel as jy nie jou kaart het nie. Dan sal lede maar elke keer as hulle gespeel het die korrek voltooide telkaart in die kassie gemerk “TELKAARTE”, op die toonbank by die rekenaar, moet los. Dit is belangrik dat lede maar streng by hierdie dissipline moet hou, want as dit nie gedoen word nie gaan jou telling elke keer op baansyfer ingelees word. As hierdie reëls vir u na ‘n klomp bog lyk moet u net weet dat dit ingestel is om die prysjagters wat op borgdae en groot kompetisies ons prys kom steel aan bande te lê. Die eerste voorgees wat onder die nuwe stelsel en met die nuwe rekenaar gedruk is, is op die kennisgewingbord. Ons verouderde drukker werk ongelukkig nie so mooi saam met die nuwe rekenaar nie, en alles lyk nie so mooi duidelik soos voorheen nie. As daar probleme of foute is wil ons dit so gou moontlik probeer regstel. Ettiene le Roux en Derick Willats speel Donderdag op Zebula in die Vodacom kompetisie vir die groot kans om dalk in die wêreldwye kompetisie teen Spanje te gaan uitspeel. Sterkte julle manne, ons glo julle kan dit doen.
Science Of Sport – Golf
Great Golf Courses Of Southern Africa
Golf: Greatest Ever Moments