SAVF immergewilde Musiekaand 2007
THABAZIMBI – Op Vrydag aand 2 November 2007 bied die SAVF weereens die immergewilde orreluitvoering en musiekaand aan. Hierdie aand beloof om soos in die verlede groot byval te vind by musiekliefhebbers wat iets meer om die lyf soek. Orrel, klavier, viool, fluit en sang sal ingespan word om aan die gehoor ‘n onvergeetlike aand te bied. Na afloop van die uitvoering, wat in die NG Kerk, Thabazimbi aangebied word, is daar ‘n kaas en wynonthaal in die kerksaal, wat soos in die verlede die aand volmaak sal afrond. Aangesien die SAVF ‘n nie-winsgewende welsynsorganisasie is wat hom beywer vir die totale sorg van die gesin, sal al die fondse wat gegenereer word aangewend word in belang van die gemeenskap, veral die versorging van verwaarloosde en mishandelde kinders. Dit is ‘n probleem wat al hoe meer kritieke afmetings aanneem in ons dorp. Indien u ‘n besigheid besit kan hierdie dalk die ideale geleentheid vir ‘n afsluitingsgeselligheid wees. Onthaal u personeel met ‘n spoggeleentheid en dra terselfdertyd by tot ‘n saak wat waarlik verdienste het. Navraag oor kaartjies kan gedoen word by Gerda Kotzé 014 7790852