General

Matriekafskeid vir Bosveld Akademie

THABAZIMBI – Die jaarlikse matriekafskeid en geleentheid waarna al die matriekleerlinge uitsien het eindelik aangebreek op Vrydag 14 September. Hierdie jaar is die groot geleentheid aangebied by Die Boom by Amandelbult. Die aand het met groot opgewondenheid begin toe die eerste matrieks heeltemal te vroeg daar aankom het en dit, met ‘n groot trekker. Die klompie het toe maar besluit om eers ‘n draai deur die dorp te gaan ry om bietjie hul uitrustings af te wys en ook om die tyd om te kry. Die saal was baie mooi opgemaak en die musiek het sag in die agtergrond gespeel. Meer en meer nuuskieriges het kom kyk hoe mooi die matrieks lyk. Een vir een het hulle die saal binnegestap met die toejuiging van die gaste wat teenwoordig was. Hulle het by die hoof tafel gesit en die bedankings is afgehandel. Die Hoof, mnr Swanepoel, het die matrieks geprys vir die wonderlike groep wat hulle is. Hy het gesê dat hulle almal ‘n rowwe diamant is en dat hulle self verantwoordelik is vir die slypwerk. Hulle moet nie die lewe blameer vir die foute wat hulle mag maak nie maar eerder daar uit leer. Hulle is verantwoordelik vir hulle eie sukses. Hy het die matrieks sterkte toegewens met die eind eksamen wat om die draai lê en hulle verseker dat alles moontlik gedoen is deur die onderwysers om hulle so ver te kon bring. Die res hang van hulle self af. Die aand was deur almal teenwoordig verder baie geniet en die kos was uit die boonste rakke. Daar is tot laat nag toe gedans en gekuier.