HFM o-15 Krieketspan deur na Semi-Finaal

THABAZIMBI – Op Saterdag 15 September het Hoërskool Frikkie Meyer se O/15 krieketspan teen Hoërskool Piet Potgieter gespeel. HFM het die loot verloor en was ingestuur om te kolf. In hulle toegelate 30 beurte het hulle 242 lopies aangeteken. Die beste kolwers was Le Roux Bodenstein met 63 lopies, Martin Meintjies met 34 lopies en Marco Nel met 31 lopies. Piet Potgieter was beperk tot 141 lopies, almal was uitgeboul. Die beste boulers was Marco Nel met 3 vir 19 in 3 beurte en Juandré du Toit met 2 vir 24 in 6 beurte. HFM het die wedstryd gewen met 101 lopies en is dus die ligawenners. Na die skoolvakansie gaan hulle in die Limpopo semi-finaal vir O/15 spanne speel.