Grondbone bly altyd ‘n wenner
Die Grondbone werkgroep van Graan SA het onlangs in Bothaville vergader om sekere belangrike aspekte in die bedryf te bespreek. Die Waterberg streek is deur Hannes Jansen verteenwoordig. Die aangeleentheid rondom graderings regulasies vir produsente lewerings is deeglik onder die loep geneem, en na deeglike debat is daar besluit dat aangesien die insluiting van aflatoksien regulasies afdwingbaar sou wees op produsente lewerings, die produsente sou verkies om dus nie vir‘n statutere regulasie vir produsente lewerings aansoek te doen nie. Produsente moet egter wanneer hulle kontrakteer met verwerkers vir lewering van grondbone, seker maak dat die graderings regulasies soos vervat in Staats koerant R 966 van 7 Oktober wel op hulle van toepassing is, met die uitsluiting van aflatoksien. Hierdie regulasies is op die verwerkings bedryf van toepassing. Die aangeleentheid rondom die bestaande saad vermeerderings skema is ook met afgevaardigers van die LNR bespreek, en groot kommer bestaan oor die langtermyn volhoubaarheid hiervan. Die produsente in samewerking met die verwerkings aanlegte sal moet besin oor die stigting van ‘n toegewyde saad maatskappy. Dit blyk ook dat saad voorsiening vir die huidige seisoen redelik onder druk gaan wees met saadpryse wat sterk gestyg het as gevolg van hoër kommersiële pryse wat betaal is. Die huidige winsgewindheid in die bedryf is ook bespreek en met groot entoesiasme is daar duidelike tekens van ‘n bedryf wat sy winsgewendheid op sy regmatig plek begin kry. Keurgraad produkte, gelewer in peule, het die afgelope meer as R6000 per metrieke ton verdien. Alle aanduidings is daar dat hierdie syfer in die komende seisoen heelwat hoër sal wees. Volgens die invoer pariteits prys model wat deur Graan SA ontwikkel is, kan uitvoer keurgraad grondbone teen ‘n wisselkoers van R7.50 vir produsente soveel as R 7000 per ton verdien (ongedop en in peule gelewer). Die winsgewindheids analise toon dat daar weinig indien enige produk is wat teen hierdie prys vlakke met grondbone kan kompeteer. Voeg daarby die waarde van die hooi, wat teen 75% van die waarde van lusern geag word, en jy het ‘n wenner! Produsente wat belangstel in grondbone aanplantings word genooi na ‘n inligtingsdag oor grondbone kontrak verbouing wat gehou word op Dinsdag 25 September 2007 om 14:00 by die Waterberg Convention Centre te Nylstroom. Vir verdere besonderhede kontak Hannes Jansen by 082 937 9348 of Bertus Blignaut by 084 581 0808.