Gemeenskap skop vas teen misdaad
THABAZIMBI – Die dinamiese span van Sanlam, Thabazimbi tak, het Saterdag 8 September ‘n kragtige misdaadvoorkomingsaanbieding met die bekende Richard Brussow van die National Hijack Prevention Academy aangebied. Richard het waardevolle informasie aangaande die voorkoming van huisbrake en voertuigkapings oorgedra gevolg deur ‘n lewendige demonstrasie oor wat ‘n persoon in die geval van ‘n motorkaping moet doen. In sy voorlegging het Richard gebruik gemaak van toepaslike voorbeelde van misdaadvoorkoming en het hy klem gelê op die bewuswording van ‘n individu se onmiddellike omgewing. Die aanbieding is afgesluit met ‘n voorlegging deur Thaba Alarms se Gys van der Walt oor hoe die publiek tegnologie kan inspan in die voorkoming van huisbrake. Vir diegene wat die praatjie misgeloop het, is daar ‘n volledige webtuiste van die National Hijack Prevention Academy te siene by webwerf: www.hijack.co.za