Frikkie Meyer hou matriekafskeid met Afrika swier
THABAZIMBI – Die uithanggeleentheid van die jaar naamlik, die matriekafskeid vir Hoërskool Frikkie Meyer, het hierdie jaar op 15 September by die Setaria ontspanningsaal plaasgevind. Van vroeg af was daar gewerkskaf om alles in gereedheid te kry vir die groot dag. Die nuuskieriges het vroeg reeds begin saamdrom om die matrieks en al die mooi uitrustings te sien te kry. Die “Africa Xperiance” was die tema vir die aand. Vir die geleentheid en om by die tema te pas is daar groot afrika diere, ‘n olifant, zebra, buffel en ‘n klein olifantjie, gehuur by Sunafrica Traiding vir ‘n baie spesiale prys. Groot olifant tande was orals te siene, en dit is gebruik vir die opmaak van die aanloop na die saal, dit was verskaf deur Kwena Molatou en die olifant tand ligte was verskaf deur Wild Lighting, die gemonteerde diere is verskaf deur Deric Robinson. Die saal was volgens die tema opgemaak en tekeninge van diere was oral te sien. Met die aankoms van die eerste matrikulante was die atmosfeer met opwinding gevul. Een na die ander het die matrieks gearriveer, daar was groot trekkers,limosenes,’n helikopter en selfs ‘n netcare motor het van die matrieks kom aflaai. Met die begin van die verrigtinge is almal wat teenwoordig was verwelkom, en die bedankings is afgehandel. Daar is aan die matrieks gesê dat hulle herinneringe baie kosbaar is en dat hulle as groep baie spesiaal is vir die skool. Daar is 3 dinge wat hulle laat uitstaan het, Liefde, hulle het die skool met liefde geraak. Tweedens, Dank, die matrieks is bedank dat hulle so ‘n spesiale groep jong mens is en derdens Groet, dit is hartseer om hulle te groet na 5 jaar in die skool. Die groot verrassing van die aand is toe onthul wat die Afrika trom spelers was en die vuur dansers wat die matrieks buite vermaak het. Op die ritme van die Afrika klanke is daar met vuur gedans en vuur geblaas, die matrieks het hulle luidkeels toegejuig en ritmies hande geklap. Na die verrigtinge buite het die tromspelers na binne beweeg en aan elke matriek ‘n handtrom uitgedeel vir deelname aan die musiek. Daar was baie gelag en hard probeer saamspeel met die professionele tromspelers, dit het vir groot opwinding gesorg. Daar is gedans gelag en ritmies saam gespeel. Die atmosfeer was so eg uit Afrika. Volgende was hoofseun en hoofdogter aan die woord en almal is bedank vir die harde werk deur die jaar om hulle so ver te kon kry. Die onderwysers was die lig wat in die donker dae geskyn, en ‘n baie spesiale dank aan Juf Jacobs vir dit wat sy vir die matrieks beteken het, daarna het die matrieks vir haar gesing. Die waarnemende hoof Mnr Erasmus is daarna die geleentheid gegee om die matrieks toe te spreek. Hy het hulle herinner dat sukses in hulle eie hande is, en more is die begin van die res van hulle lewens. Dis wat hulle daarvan maak wat tel. Almal moet ‘n droom hê, dit sal hulle dade en denke bepaal. Die dansbaan is geopen deur die hoofleiers ala Dirty Dancing en daarna het die gaskunstenaars Glas kas vir die musiek gesorg. Daar is tot laataand lekker gesellig saam gekuier.