Finaliste vir Shoprite Checkers Boerewors vat mekaar aan

THABAZIMBI – Dit wil maar net blyk dat die Thabazimbi Bosveldmense hul boerewors ken. Vir die tweede keer die afgelope drie jaar is een van vanjaar se 10 finaliste vir die gesogte Shoprite Checkers Championship Boerewors Competition uit Thabazimbi afkomstig. Louisa Penzhorn, wat die Thabazimbi streekwenner in hierdie kompetisie was, is ook as die wenner van die Limpopo-streek aangewys. Saam met die ander provinsiale wenners sal sy aan die finale, wat op 6 Oktober by die Sun City Valley of Waves gehou word, deelneem. Die wenner van hierdie kompetisie ry weg met ‘n splinternuwe Toyota Hilux 2.7 dubbelkajuit bakkie. Belangstelling in hierdie kompetisie neem jaarliks toe en hierdie jaar was daar 10 persent meer inskrywings as verlede jaar. Meer as 1000 boereworsmakers het ook vanjaar aan 80 streekskompetisies deelgeneem. Louisa, wat as een van die tien bestes uit al die provinsies aangewys is, se resep verdien reeds erkenning nog voor die finale kompetisie plaasvind. Louisa, ‘n gekwalifiseerde vleistegnikus en altyd ‘n groot hulp tydens die “Kwêvoël – Pick ‘n Pay Ready Steady Bush Cook Out” tydens die jaarlikse Thaba Expo, neem vir die tweede keer aan hierdie kompetisie deel. Daarby moet sy as ma van drie woelwaters ook nog haar plig as huisvrou nakom. Volgens Brian Weyers, Bemarkingsbestuurder van Shoprite Checkers, wys hierdie kompetisie weereens op die gewildheid van Suid-Afrikaanse Boerewors. “Die Shoprite Checkers Championship Boerewors Competition is steeds die land se voorste Boerewors braai geleentheid. Boerewors van uitstaande gehalte en kwaliteit word tydens elke kompetisie ingeskryf en lei telkens tot tot unieke en uitstaande wenresepte.” Om hierdie standard te handhaaf sal die top voedselkenners, Martin Kobalt, Carmen Niehaus, Justine Drake, Citrum Khumalo, Jenny Morris, Francois Ferreira, Pieter Veldsman, Dorah Sitole, Kevin Gibbs en Jeff Schueremans as amptelike beoordelaars tydens die finale by Sun City optree. Die land se Boereworsliefhebbers kan solank hulle lippe begin aflek want die wenresep van vanjaar se kompetisie sal vanaf 17 Oktober landswyd op die rakke van alle Shoprite Checkers winkels en Checkers Hyper Stores beskikbaar wees. Vir meer inligting aangaande hierdie kompetisie asook watertand-lekker resepte, vra maar net vir die nuutste verbruikerspamflet by die verbruikerstoonbank van u naaste Shoprite en Checkers winkels.