Bosindringing – Vol program vir Sentrum Boeredag
‘n Boeredag word op 28 September 2007 gehou wat juis hierdie kwessie gaan aanspreek. Die uiters leersame en interessante program behoort vir alle boere nuttige inligting te kan verskaf. Die doelwit wat Sentrum Boerevereniging het met die boeredag is om grondeienaars beide agtergrond inligting sowel as blootstelling aan kommersiële produkte wat beskikbaar is om bosindringing te beheer en te bestuur, te gee. Dit word verseker deur kenners te gebruik wat ondervinding en kennis het oor hierdie onderwerp en wat hulle ondervinding deur middel van lesings te deel. Die lesings word daarna ondersteun deur verskaffers wat produkte en dienste voorsien om hetsy meganies of chemies bosindringing te beheer. Volgens Jan Viljoen, voorsitter van Thabazimbi Distrik Landbou Unie, sal die program werklik die nuutste navorsing op die gebied oordra. Die verrigtinge begin om 10:00 by die Sentrum Veilingskrale. Veskeie sprekers sal ook lesings vanaf 10:00 tot 12:00 aanbied wat die volgende onderwerpe sal dek: Volhoubare bosbeheer deur professor Nico Smit van die Universiteit van die Vrystaat wat gaan fokus op grasopbrengs teenoor boomdigtheid en sluit onder andere in die resultate van die navorsing wat in die Dwaalboom gebied plaasgevind het. Praktiese ervaring waar bosbeheer oor ‘n lang periode toegepas word, deur Andre Neetling van Thaba Tholo, waar op ‘n groot skaal sedert 1990 ontbossing plaasvind. Thaba Tholo het vir hulle werk in 2006 die prys as die “Beste grasproduserende plaas” in Suid Afrika ontvang van die International Grassland Society Bosbenutting, waartydens die aanbieding boere meer aangaande die benutting van die gesnyde bos ‘n kommersiële basis gaan toelig. Produk verskaffers sal ook by hulle stalletjies besigtig kan word en sal uitstallers ook beskikbaar wees vir konsultasie. Om 14:00 word beplan om met praktiese demonstrasies van die meganiese toerusting te begin onder tipiese bosindringing situasies wat ondervind word. Hierdie demonstrasies vind op ‘n terrein onmiddelik aanliggend aan die veilingskrale plaas. Indien belangstellendes enige verdere inligting ten opsigte van bywoning of uitstalling benodig, kan die organiseerders naamlik Pieter Eloff (082 269 2497) en Willem Minnaar (083 362 0902) geskakel word.