Agri Limpopo kies die Toyota Jongboer van die Jaar
LEPHALALE – Vir ‘n vierde keer het jong boere van regoor Limpopo ingeskryf vir die Toyota Jongboer van die Jaar kompetisie gehou deur Agri Limpopo. Elke provinsie beoordeel hulle blinkste nuwe talent en nege finaliste word op nasionale vlak beoordeel om die land se beste jongboer aan te wys aan die begin van November. In Limpopo het manne die jagtery en oestery effe laat slap lê om in te skryf en na ‘n hele aantal plaasbesoeke is twee finaliste deur die paneel van beoordelaars gekies. Jacques Willemse, die vorige Limpopo Jongboer van die Jaar was ook deel van die paneel. Die twee finaliste was Carel Minnaar van die Letsiteleomgewing en Gerhard Vos van Agri Lephalale. Minnaar boer hoofsaaklik met uitvoer-sitrus asook mango’s en groente vir die plaaslike mark. Vos boer naby Groblersbrug met skape en wild en is bedrywig in die jagbedryf met baanbrekerswerk wat hom tot voor miljoene kykers in die VSA bring. Elkeen moes ‘n voorlegging doen voor die totale Agri Limpopo uitvoerende bestuur. Carel Minnaar is aangewys as die Toyota Jongboer van die Jaar vir 2007. Volgens me Amanda James, bestuurder van Agri Limpopo, het hulle groot verwagtinge van hierdie besige jong boer.