General

Weghol oorwinning vir HFM se eerste krieketspan

THABAZIMBI –HFM se Eerste krieketspan het Saterdag 8 September teen die eerste krieketspan van Hoërskool Warmbad te staan gekom. Warmbad het die loot gewen en besluit om HFM eerste te laat kolf. HFM het 388 vir 8 in die toegelate 40 beurte behaal. Die beste kolwers in die wedstryd was Jaco Prinsloo met 186 lopies en Maurice Enslin met 118 lopies. Warmbad het tweede gekolf en is almal uitgehaal vir 99 lopies in die 23ste beurt. Die beste boulers was Tommie Niehaus met 3 vir 37 in 8 beurte en Rudo Eysele met 4 vir 31 in 7 beurte. HFM het dan ook die wedstryd gewen met 289 lopies. Vyf nuwe rekords is opgestel gedurende die wedstryd nl. Die hoogste wentelling nog deur die eerste span aangeteken, 289 lopies. Die hoogste totaal nog deur die eerste span in 40 beurte aangeteken, 388 lopies. Die hoogste individuele telling deur ‘n speler aangeteken deur Jaco Prinsloo 186 lopies en sluit in 11 sesse en 21 viere. Die hoogste kapteinsbeurt is aangeteken deur Maurice Enslin met 118 lopies. Die hoogste 4de paaltjie venootskap tussen Jaco Prinsloo en Maurice Enslin met 289 lopies. Vrydag 7 September het die 0/15 krieketspan teen Nylstroom gespeel. HFM het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hulle is beperk tot 99 lopies op ‘n uiters swak voorbereide blad. Die voorste lopie makers was Niel Koekemoer en Marco Nel met 19 lopies elk en Martin Meintjes met 18 lopies. Nylstroom het daarna gekolf en die wenlopies behaal in die 2de laaste beurt met 2 paaltjies staande. Die beste boulers was Marco Nel met 2 paaltjies vir 3 lopies in 2 beurte, Le Roux Bodenstein met 2 vir 14 in 4 beurte en Reinhard Luüs met 2 vir 15 in 4 beurte. Op Saterdag 8 September het die 0/15 span teen Warmbad te staan gekom. HFM het die loot gewen en besluit om eerste veldwerk te doen en het Warmbad beperk vir 51 lopies in slegs 12 beurte. Die beste boulers was Martin Meintjes met 5 vir 24 in 5 beurte en Le Roux Bodenstein met 4 vir 22 in 6 beurte. HFM het wenlopies aangeteken in die 7de beurt met Le Roux met 25 lopies en Peter Balani met 17 lopies nie uit nie, as beste kolwers. HFM het die wedstryd gewen met 9 paaltjies.