Entertainment

Steyn Fourie se nuutste DVD vir kinders beskikbaar!

Steyn Fourie, die bekende Afrikaanse sanger, het die afgelope tyd verskeie laerskole in die Thabazimbi omgewing besoek ten einde sy nuwe DVD vir die kleinspan bekend te stel. Steyn is ‘n boorling van hierdie wêreld en is in 1968 in Thabazimbi gebore. In die 1980’s het Steyn, sy pa en broers (bekend as die Fourie Broers) elke Desember by Zimthabi die mense met hulle musiek vermaak. Steyn is ‘n besige man. Hy skryf radio en T.V.advertensies, skryf liedjies vir bekende sangers, rig professionele sangers af, doen agtergrond kore vir bekende sangers en nog vele meer. Natuurlik sing hy ook nog tussendeur. Tans spits hy hom toe om die 10 gebooie in ‘n maklik verstaanbare vertoning aan laerskool kinders oor te dra. Dit is ‘n prettige, interaktiewe, musikale vertoning. Sedert Maart 2004 het hulle reeds meer as 350 suksesvolle vertonings agter die rug, meer as 95 000 cd’s verkoop, oor die 300000 kinders bereik en meer as 250 000 km getoer reg oor Suid-Afrika. Daar is ook twee musiek videos op KykNet te sien. Die skole wat hulle in die omgewing besoek het sluit in laerskole in Thabazimbi en Ellisras, Laerskool Dwaalboom en Laerskool Van Wykskraal op Makoppa asook Sedibeng (‘n Spesiale skool buite Ellisras). Steyn sê dat dit ‘n groot eer vir hom was om weer Thabazimbi te besoek, asook Laerskool Van Wykskraal aangesien dit is waar sy pa, Flip Fourie, skool gegaan het. Die DVD opname van die vertoning wat die kinders by die skool gesien het is nou beskikbaar – op ‘n groot aanvraag vanaf die kinders. Dit is vir die eerste keer beskikbaar gestel op 1 September 2007 in ons eie dorp, Thabazimbi! Die DVD was vroeër vanjaar by Laerskool Magalieskruin opgeneem. Die skole wat hierbo genoem is, is van die eerste skole wat die geleentheid het om die dvd te bestel, aangesien dit eers vanaf hierdie week af te koop aangebied word. Die CD is steeds beskikbaar teen R40-00 en die DVD teen R90-00 – posgeld ingesluit. Die idee is dat die publiek moet voel dat hulle eerste die geleentheid gebied word om die DVD’s te bestel. Amper soos ‘n “eksklusiewe aanbieding” want hulle hanteer glad nie as ‘n reël posbestellings nie, maar wil dit graag aan die mense in ons omgewing bied. Steyn wil graag alle ouers en kinders bedank vir die cd’s wat hulle gekoop het, sowel as die skole vir hulle positiewe gesindheid en vriendelike ontvangs. Bestellings kan geplaas word via e-pos by pleinsteyn@yahoo.com of per faks by 0866 585 219 of telefonies by 078 340 9669.