Tyd vir Dwaalboom Oesfees
DWAALBOOM – Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer die immergewilde Dwaalboom Oesfees aangebied word. Op die naweek van 7 September neem hierdie fees ‘n aanvang en beloof dit om iets vir elkeen te bied. Vrydag oggend word afgeskop met die opening wat deur Ds Carl Shcunke behartig word en om 10:00 word daar ‘n Diere en Meganisasie bekendstelling aangebied sowel as ‘n promosie braai vir die boere. Die Boer van die jaar prysuitdeling neem om 13:00 ‘n aanvang. Later die middag, om 18:00, is dit die gewilde skoonheidskompetisie, Mnr en Mej Dwaalboom. Inskrywingsgeld beloop R80 en die drag is hierdie jaar Pret met Safari. Jong dametjies kan in die afdeling Mej Sonneblommetjie inskryf en die jong manne vir Mnr Bulletjie, die ouderdomsgroep is vanaf 7 tot 14. Die ouderdomsgroep vir Mej en Mnr Dwaalboom is 15 tot 25. Gaskunstenaars wat hierdie jaar musiek gaan maak tot laat is op Vrydag aand Willie Botha en Saterdag aand Pieter en Lee Ann Naudé. Saterdag het ‘n hele vol program met die fietsrywedren, boeresport, toutrek en die hoogtepunt is die Rugbywedstryd tussen die Blou Bulle en die Leeus wat op die groot skerm vertoon gaan word. Talle stalletjies met uitstallers van ‘n groot verskeidenheid items gaan op die terrein wees. Hope vermaak vir die kleinspan en eetgoed en drinkgoed wat ‘n mens se mond net kan laat water. Toegangsgeld beloop R15 vir volwassenes en hoërskool leerders en R10 vir laerskool leerders. Vir enige verdere inligting oor die skou, kompetisies en inskrywingsvorms kontak gerus vir Franette Pienaar by 083 700 7030.