Kerk reël geslaagde gholfdag
THABAZIMBI – Verlede Vrydag 24 Augustus, was ‘n spesiale gholfdag wat deur die plaaslike NG Kerk aangebied is. Die gholfbaan was van vroeg af oortrek met baniere en wimpels van al die borge en daar het ‘n karnavalgees geheers. Die vure het reeds vroeg gebrand en die potjies gestoom. Dit is seker die eerste keer dat die predikante so hard in die week gewerk het. Heerlike potjiekos was reg deur die dag beskikbaar en die aand kon jy selfs jou biefstuk volgens smaak bestel. Die formaat was ‘n Beterbal met keuse bofhou. Aan die einde van ‘n dag sonder enige haakplekke was Marina van der Wateren en Winnie Fourie met 47 punte die wenners. Kobus Snyman en Helgaard Muller met 46 was tweede. Alta Venter en Jeanette Rall met 44 was derde. Daar was nog baie pryse wat gewen is. Baie dankie en geluk aan die hele NG gemeente en Johan Prinsloo wat vir die reëlings verantwoordelik was. Saterdag se spel was Individuele Bonus Syferspel. Hendrik van Niekerk (+4), Herman Bear (-1), Jakkie van der Wateren en Mike Nortje (-3) was hier die wenners. Saterdag 1 September is dit weer Slagspel. Maandagaand 3 September is dit die eerste vergadering van die nuwe komitee. Vrydag 7 September is dit weer Interaksie Gholf.