Grond vir plaaswerkers
Agri SA sê in ‘n mediaverklaring dat die voorgestelde program om tot 5 miljoen hektaar grond vir plaaswerkers te bekom ten einde hulle verblyfsekerheid te bevorder, is ‘n nuwe verwikkeling wat opklaring verg. Die debat oor verblyfsekerheid van plaaswerkers en die beleidsmaatreëls waarmee dit bevorder word, onder andere die nie-bedoelde implikasies van wetgewing soos die Uitbreiding van Verblyfsekerheid- en die Huurarbeiderswet, dui op verskille oor hoe die aangeleentheid benader moet word. Dit is Agri SA se standpunt dat plaaswerkers voorkeur behandeling moet kry, omdat hulle kennis van landbou kan bydra tot die sukseskoers met Swart Ekonomiese Bemagtiging in die landbou. Wat Agri SA betref is daar steeds ‘n gebrek aan ‘n weldeurdagte beleidsraamwerk waarmee die behuisingsbehoeftes van landelike gemeenskappe aangespreek kan word. ‘n Bevredigende balans moet met so ‘n raamwerk getref word tussen die instandhouding van die produksie- vermoë van die landbou, geleenthede vir deelname in die eerste ekonomie, die bydrae van behuising en verbandhoudende infrastruktuur tot die maatskaplike opheffing asook die stabiliteit en veiligheid van landbouers en plaasgemeenskappe. Agri SA wil daarop wys dat die tersaaklike program nie mag lei tot die versnippering van boerdery-eenhede tot die vlak van onvolhoubaarheid en die vestiging van werklose gemeenskappe in plaasomgewings met gepaardgaande probleme nie. Dit is moontlik dat hierdie aangeleenthede reeds deur die owerheid onder oorweging geneem is en dat gerusstelling daaroor gegee kan word. Die voorgestelde area-gebaseerde grondhervormingsmodel, waarvolgens plaaswerkers en bewoners as begunstigdes grond vir lewensvatbare boerdery-doeleindes verkry, kan bydra tot ‘n meer gebalanseerde deelname aan die landbou. Daar moet egter begrip wees dat boere en grondeienaars in landelike gebiede nog onbeantwoorde vrae in die verband het. Agri SA sal derhalwe dit as ‘n saak van dringendheid met die Departement van Grondsake opneem.