General

Ewige rus vir Jeff

THABAZIMBI – Een van die dorp en  omgewing se kleurvolle figure, Jeff  Verdonk van die plaas Patrysvlei, is  Sondag na ‘n kort siekbed oorlede.  Jeff het vir homself naam gemaak as  meganiese ingenieur in diens van die  WNNR. Sy spesialiteitsveld was kabels waar  hy gemoeid was met die ontwerp en toetsing  van staalkabels wat vir hysers en veral in  myne gebruik is.  Na sy aftrede by die WNNR het hy vir  homself ‘n plaas in die bosveld naby  Sentrum gekoop. Hier het hy ‘n klein  beesboerdery begin en was dit dan ook ‘n  gewilde kuier- en jagplek vir sy ou kolegas  en vriende uit die stad.  Jeff is in België gebore en het daar groot  geword. Hy het hom as meganiese  ingenieur bekwaam en het later ‘n pos by die WNNR aanvaar. Hy en sy gesin het hulle in  Aucklandpark Johannesburg gevestig.  Die vrye vlaktes het egter vir Jeff geroep en  hy het hom permanent op Patrysvlei kom  vestig. Jeff se uitbundige geaardheid het  hom gou as een van die kleurvolle figure in  Thabazimbi laat uitstaan en kon hy met sy  tipiese Duitse bierfeesliedjies vir ure saam  met vriende kuier.  Jeff het sowat vier jaar gelede ‘n ernstige  terugslag gehad wat veroorsaak het dat hy  hom maar meer tot die plaas moes beperk.  Hy het steeds gereeld met die hulp van sy  werkers die 80km dorp toe gery om inkopies  te kom doen.  Vir die mense wat hom geken het sal daar  altyd ‘n spesiale plekkie gehou word vir Jeff.  ‘n Gedenkbyeenkoms ter ere van Jeff word  vandag (Vrydag 31 Augustus) om 16:00 by  Thaba Nkwe gehou. Al sy vriende word  uitgenooi om hierdie geleentheid saam met Jeff se kinders by te woon.