General

Ou inwoners verlaat

THABAZIMBI – Twee ou inwoners van die Bosveld, Flip en Martie Prinsloo gaan die Bosveld verlaat. Martie Prinsloo is op 22 Januarie 1945 hier in die Bosveld gebore te Van Wykskraal, Makoppa en het haar laerskooljare dan ook daar deurgebring. Graad I en II het sy by haar pa, Ou Botha of Oom Kerrie soos almal hom geken het, klas gekry. Haar ma, Tannie Truis, is al 91 en bly in Huis Sering in Rustenburg. Sy het as jong meisie van 17 hier op Thabazimbi in die menasie gewerk, waar sy haar tante gehelp het om die jong myners kos te gee. Die Hoërskool was nog in aanbou en die skoliere moes elke oggend na die tydelike geboue by die Laerskool stap. Hulle was skaars in die nuwe skool, toe daar een nag ‘n geweldige storm opkom en die sinkplate van die dak afruk en teen die koshuis se vensters geslinger het dat die glas so spat deur die kamers. Die meisies het angsbevange gegil en in die gange op en af gehardloop. Die onderwyseresse het al hul dae gehad om hulle tot bedaring te bring. Dit was eers in 1963, toe sy in matriek was dat die meisieskoshuis klaar gebou was en hulle kon intrek. Op 31 Oktober 1970 is sy met ‘n ou skoolmaat Chris (Spekkies) Erasmus getroud. Uit hul huwelik is 4 kinders gebore, Na Chris se afsterwe en die 8 en ‘n half jare van weduwee wees is sy met Flip Prinsloo getroud. Martie en Flip wil dan ook van hierdie geleentheid gebruik maak om al die familie, vriende en geliefdes in die Here asook bure en agente, wat so hard gewerk het om hul huis te verkoop, uit te nooi na ‘n bring en braai geleentheid om afskeid te neem. Hierdie geleentheid vind op Saterdag 25 Augustus om 16:00 plaas by hul huis te Vierde laan 65. Laat weet asseblief.