Graad 1 Uitstappie na Slangpark
THABAZIMBI – Die Graad 1 groep en hul onderwysers van Laerskool Thabazimbi het op Woensdag 15 Augustus met groot opgewondenheid per bus na Hartebeespoort dam se slangpark vertrek. Vroeg die oggend het die spulletjie bymekaar gekom en almal was in rep en roer, want hierdie busrit was vir baie van hulle, ‘n eerste ondervinding. Sinoniem met ‘n uitstappie is mos ook ‘n lekker kospakkie, en die kleingoed was net so opgewonde daaroor. By die slangpark is daar ‘n demonstrasie aan hulle gelewer en het hulle ‘n baie interessante praatjie oor slange aangehoor. Die hoogtepunt van al die gebeure was dat hulle die geleentheid gekry het om aan ‘n lewendige luislang te voel. Die meisietjies was maar skrikkerig en die ding het vir party van hulle baie grillerig gelyk, maar dan was daar darem ook die brawe outjies wat heel roekeloos vorentoe gestaan het om die slang van naderby te besigtig. Daarna was die kinders getrakteer met ‘n bootrit op die dam wat definitief vir hulle die kersie op die koek was. Die leersame uitstappie is afgesluit met heerlike middagete by ‘n restaurant en die kinders kon nie uitgepraat raak oor alles wat hulle te sien gekry het nie. Mnr Koos Venter en die Graad 1 groep wil graag diegene bedank wat die geleentheid moontlik gemaak het.