General

Eskom voertuig gebruik om verbode immigrante te vervoer

Vyf persone is as onwettige immigrante gearresteer terwyl die bestuurder van ‘n Eskom voertuig ook aangehou is toe ‘n groep verdagte persone by die N1 snelweg afgelaai is. As gevolg van die talle verbode immigrante wat vanaf Zimbabwe die land binnestroom, is TLU SA Noord se Plaaswag voortdurend besig met patrolliewerk. Die Nasionale Voorsitter van die Veiligheidskomitee van TLU SA, Mnr. Gideon Meiring het gesê dat die TLU SA Noord Plaaswag weer soos gewoonlik Dinsdag 14 Augustus 2007 met misdaadvoorkoming besig was. Net noord van die Baobab Tolhek is ‘n Eskom gemerkte voertuig opgemerk. Verskeie persone het van die voertuig afgeklim en onder in die stormwaterslote onder die N1 gekruip. Vyf persone is as onwettige immigrante gearresteer, die bestuurder is ook aangehou waarna die SAPD ontbied is. Terwyl vir die SAPD gewag is, is nog agt onwettige Zimbabwe immigrante op die aangrensende privaat eiendom gearresteer vir betreding. Die bestuurder van die Eskom gemerkte voertuig is gearresteer en ‘n afkoopboete van R 1500.00 is betaal. Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het gesê dat die situasie op die noord grens, soos by die Lesotho grens, ernstige afmetings aanneem. Die direkte kostes is hoog omdat lede self vir brandstof, slytasie en ander uitgawes verantwoordelik is. Die verlies aan produktiwiteit en die tyd wat aan die misdaad voorkomingsaksies bestee word, is hoog. Lede word nie vergoed om die gebied te beveilig nie. Joubert het gesê dat die Suid-Afrikaanse regering nie teen Zimbabwe sal optree nie. Dit is oor en oor bewys dat huidige en vorige Afrika leiers nooit teen die sogenaamde ‘struggle’ vriende optree nie. Hier is dit ook nie anders nie. TLU SA Noord sal voortgaan om deur middel van die plaaswag die veiligheid van lewe en eiendom te verseker.