Thaba rugbyklub wen Waterberg 2de liga
THABAZIMBI – Thabazimbi Rugbyklub se tweede span het geskiedenis gemaak toe hulle twee jaar na mekaar die 2de liga in die Waterberg gewen het.
In ‘n wedstryd wat uit twee uiteenlopende helftes bestaan het, het Thaba die eerste helfte oorheers en na willekeer met die bal gehardloop maar nie altyd mooi afgerond het nie en sodoende met 12-0 voorgeloop met rustyd. Mogol het rustyd ‘n haas uit die hoed gepluk en iewers ‘n paar swaargewigte gekry en die tweede helfte moes Thaba keer vir ‘n vale want toe wou die manne van Mogol net punte aanteken. Slegs Thaba se groot wil om te wen het gekeer dat Mogol toe met die wedstryd weghardloop. Mogol het twee drieë aangeteken en een doelskop oorgeklits. Thaba se losskakel Brandt Engelbrecht het met ‘n baie belangrike strafskop van die tien meter lyn geslaag en die eindtelling was 15-12 in Thaba se guns. Die spelers aan Thaba se kant het alles gegee en dit is nie maklik om Mogol op hulle tuisveld te wen nie, wat die oorwinning soveel soeter gemaak het. Uitblinkers aan Thaba se kant was elke speler wat op die veld was en hulle harte uitgespeel het vir die eer om te wen. ‘n Paar name kan dalk uitgesonder word en hier moet die name van Blou van Rensburg en Marius Wheeler eerste genoem word met Willlem van der Nest en Riaan Nel wat net so hard gewerk het. Agterlangs was die skakelpaar Brandt Engelbrecht en Jan Louis van der Berg die planmakers met Barret Mans en Joe Grobbelaar wat telkens gevaarlik was met bal in die hand en op die verdediging. Martiam Barnard (Kaas) en Desmond Tutani het ook hulle harte uitgespeel. Puntemakers aan Thaba se kant drieë was Martium “Kaas” Barnard en Joe Grobbelaar. Dan slaag Brandt Engelbrecht ook met ‘n doelskop en ‘n strafskop. Die afrigterspan van Thaba moet ook gelukgewens word met die manier hoe die spelers bestuur word en die eerlikheid waarmee spanne gekies word. Thaba se jaareindfundsie word later die jaar gehou en die dag tyd en plek sal later aangekondig word. Thaba wil ook al die borge bedank vir die jaar se ondersteuning en ons almal weet dat sonder die borge sal dit maar broekskeur gaan om ‘n rugbyklub aan die gang te hou. Dan die getroue ondersteuners julle help Thaba met julle ondersteuning en dit bly ‘n voorreg om voor baie getalle te speel. Weereens baie dankie en hou Thaba se rugbyspanne dop volgende jaar.