Grondeise gebaseer op valse verklarings?
TLU SA Noord sê in ‘n mediaverklaring dat die tyd vinnig ryp raak om met meer aandag te kyk na die registrasie van eise wat die publikasie van grondeise vooraf gegaan het. Die laaste dag waarop eis geregistreer kon word was 31 Desember 1998.
Volgens mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord bestaan die vermoede dat verskeie eisers vals verklarings afgelê het tydens die registrasie van eise. Dit is waarskynlik een van die verklarings waartoe gekom kan word veral in die lig dat daar soms tot drie verskillende eise op een eiendom geregistreer is. Dit bly verstommend dat die Grondeise Kommissaris aan al die eise op dieselfde grond erkenning gee deur almal as geldige eise in die Staatskoerant te publiseer. Wat ook deur die jare uiters opvallend was, is die geweldige hoeveelheid eise wat op die laaste dag, 31 Desember 1998, geregistreer is. Dit sou interessant wees om te sien hoeveel amptenare daardie dag gewerk het en of daar enige oortyd betaal was. Volgens Joubert is daar verskeie gebiede waar grondeise in die Staatkoerant gepubliseer is, wat reeds in ‘n gevorderde stadium was met navorsing om die geldigheid van die eise te bepaal. Soos wat feite na vore kom, word die vermoede, in meeste gevalle, dat vals verklarings tydens die registrasie van eise afgelê is, bevestig. Regsimplikasies sal in twee gedeeltes ondersoek moet word: Eerstens, eienaars van grond wat grond aanbied nadat die eise in die Staatskoerant gepubliseer is. Die vraag is of die eienaars nie onder vals voorwendsels hul grond aangebied het nie? Sou hulle die grond aangebied het as daar nie ‘n eis op die grond in die Staatskoerant gepubliseer was nie? Wat sou die regsimplikasies wees indien bevind word dat die eisers vals verklarings afgelê het, veral waar daar meer as een eis op dieselfde grond is of waar die geldigheid van die eis nog steeds nie bepaal is nie? Tweedens, wat sou die regsimplikasies wees, aangesien die Grondeisekommissie met al die mag, gesag, hulpbronne en geld as ondersteuning, eise publiseer wat skynbaar gebaseer is op vals verklarings? Het die staat ‘n verskoning om mag so te gebruik dat wetsgehoorsame burgers onder skynbaar valse voorwendsels hul grond in goedertrou aanbied onder die vaste indruk dat die staat die eis as geldig hanteer en beskou? Joubert het gesê dat dit dalk tyd is dat inktoetse op die oorspronklike registrasie-van-eis vorms gedoen word. Alhoewel dit nie betwyfel word dat daar wel enkele geldige grondeise gepubliseer is nie, is daar min twyfel dat ‘n groot aantal eise nie die toets van deeglike ondersoek sal deurstaan nie. Mnr. Joubert het gesê dat lede nie deur die publikasie van eise geïntimideer moet word nie.