Voertuigkomponentverskaffers staar uitdagings in die gesig
Die aantal voertuie wat in die eerste helfte van 2007 in Suid-Afrika vervaardig is, is laer as dié van die ooreenstemmende tydperk in 2006 en staan nou op dieselfde produksievlak as in die eerste ses maande in 2005. “Dit is ‘n nogal teleurstellende ontwikkeling vir die plaaslike voertuigkomponentvervaardigers, wat as gevolg daarvan laer produksievlakke weens die algehele daling regdeur die bedryf ervaar,” het Roger Pitot, uitvoerende direkteur van die nasionale vereniging van voertuigkomponent- en verwante vervaardigers van Suid-Afrika (Naacam), gesê. Altesaam 41 400 passasiers- en ligte handelsvoertuie is gemiddeld elke maand in 2005 geproduseer. Dié syfer het in 2006 tot 46 100 eenhede gestyg, maar in 2007 sover met 11% tot 41 500 eenhede per maand gedaal. “Die produksie van passasiers- en ligte handelsvoertuie staan op dieselfde vlak as regdeur 2005, en die groei wat in 2006 opgebou het, is dus verlore,” het Pitot gesê. “Dit moet hoofsaaklik toegeskryf word aan die daling in voertuigverkope in die eerste helfte van 2007, die groter markaandeel van ingevoerde voertuie, en die relatiewe swak voertuiguitvoere in 2007 in vergelyking met 2006.” Suid-Afrika voer elke jaar meer voertuie in – iets wat kommer by plaaslike voertuigkomponentverskaffers wek, veral weens die feit dat dit nie deur groter uitvoer geëwenaar word nie. Minder as die helfte van die nuwe motors wat in 2005 in Suid-Afrika verkoop is, was ingevoerde voertuie, maar dié syfer het tot dusver vanjaar tot bykans 60% gestyg. Volgens Pitot byt verbruikers op die ou einde die spit vir die huidige laer produksie en uitvoer af. “’n Styging in produksie lei gewoonlik tot beter skaalbesparings, laer vervaardigerskoste en meer bekostigbare voertuie in die lange duur. Terselfdertyd word meer werkgeleenthede by voertuigmonteerders geskep, en dit spoel deur die verskaffingstroom na die komponentvervaardigers oor. Ons het reeds vanjaar ‘n effense daling in indiensnemingsyfers bespeur, wat sonder twyfel aan die laer produksie toegeskryf kan word.” Naacam help sy lede om hierdie daling in produksie deur talle aansporings te bowe te kom – hoofsaaklik deur beskikbare uitvoergeleenthede te benut. Die vereniging glo komponentvervaardigers moet toenemend na oorsese markte kyk om vars geleenthede vir uitvoerkontrakte – veral na ander ontwikkelende lande – te soek. Die vereniging het onlangs ‘n handelsmissie na Brasilië gelei waar die voertuigmark vier keer groter as in Suid-Afrika is, wat op groot potensiaal vir Suid-Afrikaanse uitvoerders gedui het. “Suid-Afrikaanse voertuigverwante uitvoer na Brasilië het in 2006 op R245 miljoen te staan gekom – ‘n skrale 0,5% van die algehele wêreldwye voertuigverwante uitvoer na daardie land. Ons mikpunt is om dié syfer in die volgende drie jaar te verdubbel, en ons beplan reeds opvolgbesoeke aan Brasilië vir ons lede in die volgende paar maande,” het Pitot gesê. Naacam-lede sal die volgende ses maande verskeie internasionale uitstallings bywoon of daar uitstal, waaronder die Chinese internasionale voertuigonderdele-expo, die Equip Auto-expo in Frankryk en die Auto Expo in Nieu-Delhi, Indië, ten einde bykomende uitvoergeleenthede wêreldwyd te benut. Pitot het gesê daar is egter lig aan die einde van die tonnel – hy hoop dat die situasie in ‘n sekere mate sal verbeter wanneer die nuwe Mercedes-Benz C-Klas en die nuwe Toyota Corolla teen die einde van die jaar volle produksie bereik. “Ons glo 2008 sal ‘n beter jaar wees, maar baie sal van algehele verkope afhang – of dit sal aanhou daal of weer sal begin styg – en natuurlik die uitwerking van nuwe ingevoerde spelers in die mark, en veral dié uit China.”