Laerskool Thabazimbi se krieketspanne seëvier teen Warmbad
THABAZIMBI – Vier van Laerskool Thabazimbi se krieketspanne het verlede week teen spanne van Laerskool Warmbad te staan gekom en seëvierend uit die stryd getree. Die o/11 span het Dinsdag 31 Julie op hul tuisveld teen die span van Warmbad te staan gekom. Thabazimbi het besluit om eerste te kolf en hulle teken 237 lopies aan. Warmbad kon slegs 90 lopies aanteken wat beteken dat Thabazimbi met 147 lopies wen. Die beste bouler was Eugene Olivier wat 4 paaltjies laat spat het vir net 29 lopies in 6 boulbeurte. Eugene was ook die beste kolwer met 67 lopies nie uit nie. Dieselfde dag het Thabazimbi se eerstespan teen die eerstespan van Warmbad gespeel. Thabazimbi kolf eerste en teken ‘n goeie 248 lopies aan. Warmbad kon slegs 74 lopies aanteken wat maak dat Thabazimbi met 174 lopies wen. Die beste bouler was Rudolf Human wat 6 paaltjies gevat het vir slegs 11 lopies in 4 boulbeurte. Drie kolwers van Thabazimbi het uitgeblink. Muller Lategan teken 60 lopies aan terwyl Marthinus van der Berg en Gert Hefer onderskeidelik 63 lopies, nie uit nie, aangeteken het. Donderdag 2 Augustus het die o/10 span op hul eie veld teen die span van Warmbad gespeel terwyl die tweedespan op Warmbad gaan kuier het. Laerskool Thabazimbi se o/10 span het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hulle teken 185 lopies in die toegelate 30 boulbeurte aan met die verlies van 4 paaltjies. Warmbad word almal uitgehaal vir 63 lopies. Thabazimbi wen dus met 122 lopies. Die uitblinkers onder die kolwers was Heinrich Herman met 31 lopies en Stefan Joubert met 45 lopies. Stefan het ook 4 paaltjies laat val vir 17 lopies in 6 boulbeurte. Zander Azar neem 2 paaltjies vir 19 lopies in 6 boulbeurte. Die tweedespan het die paaltjies behoorlik laat spat toe hulle Warmbad almal uithaal vir 58 lopies. Thabazimbi het die telling verbygesteek met net een paaltjie plat en wen dus met 9 paaltjies. Die beste bouler was Stefan van Tonder wat 4 paaltjies neem vir net 10 lopies in 4 beurte. Die beste kolwer was Dylon Colchester met 23 lopies nie uit nie.