Frank Opperman kom draai by die KunsteGrot
THABAZIMBI – Teatergangers kan hulle maar op 25 Augustus regmaak vir die uitstekende komedie deur een van die veterane op die Suid-Afrikaanse verhoog, Frank Opperman, wanneer hy met sy nuutste produksie “Die Uwe…..Pottie Potgieter’ na Thabazimbi se KunsteGrot bring. Die komiese dog roerende verhaal oor die wel en wee van Pottie Potgieter, ‘n middeljarige man wat sy werk as boekhouer by Theron, Visser en Dlamini verloor na twintig jaar se diens. Die toneel speel af in Pottie se sitkamer. Hy kom sopas terug van sy 143 ste werksonderhoud. Werk is skaars vir ‘n bakkies soos syne. Pottie probeer uitwerk waar dinge verkeerd geloop het, en wat geword het van al sy drome en ambisies. Hy neem die gehoor op ‘n reis deur die wêreld van die werklose, hy besef dis eers wanneer jy werkloos is dat jy ander werkloses raaksien. Pottie het nog probleme, hy het nog nie sy vrou vertel dat hy 7 maande gelede gefire is nie. So tussen RSG op die radio, die classifieds in die koerant, onsuksesvolle werksonderhoude en rondspeel met ‘n kamera met die oog op ‘n selfhelp video vir werklose middeljarige witmans, vlieg Pottie se lewe in 65 minute verby….As hy uiteindelik deur kom na Nicky vd Berg op Sê wie, kan hy van sy verlede ontslae raak en hom toespits op die toekoms. Frank se naam is sinoniem met komedie. Wie kan hom vergeet in die rol van “Ouboet “ in “Orkney Snork Nie”. Van sy ander een-man vertonings het ook gesorg vir sale uitverkoop.