General

Die tendens van vreemde troeteldiere

Heelwat mense verkies deesdae om ’n eksotieser of eienaardiger dierevertroueling as die eertydse hond of kat aan te hou. Dikwels is só ’n vreemde troeteldier ’n modegier soos wat daar blykbaar deesdae heers. Dink egter mooi voordat jy so ‘n vreemde troeteldier“aanneem”. So oulik as wat daardie klein apie of hasie dalk mag wees, is die keuse om só ’n troeteldier aan te skaf, nie een wat ligtelik opgeneem moet word nie. Volgens mnr. Danie Heenop, bestuurder van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Potchefstroom, moet talle faktore in ag geneem word as ’n mens enige troeteldier “aanneem” – en soveel meer as dit ’n ongewone dier of spesie is. “Jou aanhoudingsgeriewe moet 300% reg wees. Dikwels is sulke diere sensitief vir koue en siektes en vrek hulle maklik.” Hy beklemtoon dat eienaars al vóór die tyd soveel moontlik kennis moet inwin oor die dier wat hulle wil aanhou. “Gaan lees na oor hul gedragspatrone en behoeftes en praat met telers en kenners,” sê hy. “Jy moet weet wat jy van die dier kan verwag en nie kwaad word as hy bloot volgens sy natuur optree en selfs aggressief is nie.” Baie van hierdie onskadelike koringslange byt tog as hulle bedreig voel. Voorts moet ouers nie net só ’n dier vir hul kinders aanskaf bloot omdat dit ’n snaaksigheid is nie. “Onthou, die oulike klein diere raak volwasse en word dikwels afgeskeep as die aanvanklike opwinding verby is.” Volgens Heenop moet ouers by die kleinspan inskerp dat om vir ’n vreemde troeteldier te sorg, bestaan uit kosgee, liefde, genoeg oefening, dissiplinering én aandag. Hulle moet tot die besef gebring word dat hulle sekere dinge moet prysgee. Daar moet ag geslaan word op naweek reëlings – jy kan nie meer op die ingewing van die oomblik vir ’n naweek weggaan en die aap tuis los nie. Wat sê die wet? Om ’n vreemde troeteldier aan te hou, is ook nie so maklik as om net die dier te koop nie. Heenop beklemtoon die belangrikheid om die regte prosedures te volg en permitte te bekom, indien nodig. “Só moet daar by die plaaslike munisipaliteit aansoek gedoen word om groter diere, soos hoenders, slange en spinnekoppe, aan te hou. Sou dié diere ontsnap – selfs met die permit – en hulle hou ’n gevaar vir ander in, mag hulle van kant gemaak word.” Volgens Heenop is daar ook nie net één soort permit nie. “Die mees algemene is die aanhoupermit, maar daar is ook spesiale vang- en vervoerpermitte. Dus kan jy nie jou troetelslang aanry met vakansie as jy nie laasgenoemde het nie.” Voorts mag ’n mens ook nie inheemse reptiele aanhou nie – natuurbewaringsowerhede beskerm dié diere. Uitheemse reptiele mag wel aangehou word. Wanneer die reëls gevolg word en ’n dier die nodige liefde en aandag kry, kan ’n mens baie plesier put en leer oor dié dieresoort wat jy gekies het om aan te hou. In ruil daarvoor sal jy ’n gelukkige, gesonde troeteldier hê.