TLU Noord ondersoek alternatiewe energie
THABAZIMBI – ‘n Beroep is op lede van TLU SA Noord gedoen om so ver moontlik onafhanklik te word van regeringsbeheerde energie. In die lig van die waarskuwing dat elektrisiteitstariewe met 18% gaan styg, moet lede nie alleen elektriseit-besparende aksies in werking stel nie, maar ook ernstig alternatiewe bronne van energie ondersoek, het TLU SA Noord voorsitter, Dries Joubert in ‘n verklaring gesê. “Daar is geen rede waarom lede nie kan begin, al is dit op klein skaal, om alternatiewe energie op te wek en te gebruik nie,” sê Joubert. Daarom gaan ‘n afvaardiging van TLU SA Noord ‘n invoerder van tegnologie in Pretoria besoek. Die opdrag aan die streekskantoor is dat daar gepoog moet word om lede ekonomies volhoubaar in veiligheid op hul plase te laat woon en werk. Die besluit was dat daar gekyk moet word na vervanging van regeringsbeheerde brandstof, -energie, -kommunikasie en –markte. Volgens Joubert het TLU SA Noord reeds ver gevorder om lede onafhanklik te maak van brandstof. Enige lid kan nou eie bio diesel vervaardig met behulp van die Bio Diesel-komitee wat gestig is en wat soos ‘n studiegroep funksioneer. Met die dreigende ineenstorting van volhoubare elektrisiteitsvoorsiening is dit noodsaaklik dat lede ook instaat gestel moet word om van alternatiewe gebruik te maak. Die geweldige prysverhogings wat aangekoding word, is dit gebiedend noodsaaklik dat aandag aan die saak geskenk moet word. Dit is noodsaaklik om volhoubare energie te genereer. Elektrisiteit opgewek deur die oneffektiewe lae klas steenkool is nie meer volhoubaar nie. Die geweldige lugbesoedeling wat daardeur veroorsaak word, speel ‘n groot rol in klimaatsverandering en menslike/dierlike gesondheid. Die swaar besoedeling kan nie meer geduld word nie. Mikro-tegnologie produkte gaan die volgende revolusie veroorsaak wat die produkte van die industriële revolusie gaan vervang. Daarby saam is die geweldige diefstal van kabels, wat blykbaar nie deur die SAPD onder beheer gekry word nie, ‘n verdere aspek wat boere miljoene rande kos. Strategies het dit nou noodsaaklik geword om na totale ander metodes te kyk om energie te genereer. Joubert is van mening dat lede van die gemeenskap verplig is om volhoubaar te leef. TLU SA Noord is al vir jare besig om lede aan te moedig om volhoubare prokjete te ondersteun. Voedselsekerheid is een deel van elke produsent se verpligting, maar volhoubaarheid is net so belangrik. Dit help nie dat voedsel en vesel geproduseer word en die omgewing sterf aan besoedeling nie.