General

Skenkings benodig vir kinderhuis

Die Abraham Kriel Kinderhuis op Modimolle (Nylstroom) beleef tans finansiële nood as gevolg van staatsubsidies wat nie tred hou met inflasie en prysstygings nie. Tans dek die subsidies net 50% van die kinderhuis se uitgawes wat daarop neerkom dat die ander 50% deur die kinderhuis self voorsien moet word. Onvoorsiene uitgawes is ‘n groot kopseer aangesien daar nie fondse is om daarvoor te begroot nie. Daar is beslis nie geld, soos in die verlede, om luukshede aan te koop nie, omdat selfs die oortrokke fasiliteit by die bank verhoog moes om die kinderhuis in staat te stel om in die mees basiese behoeftes te kan voorsien. Die begroting maak tans voorsiening van 200 getraumatiseerde kinders, maar hierdie getalle wissel volgens innames. Daar word maandeliks subsidie geëis volgens die werklike hoeveelheid kinders op daardie stadium. Huidiglik is die eenheidskoste per kind per maand ongeveer R2050. Dit sluit in kos, klere, salarisse, professionele dienste, vervoer, brandstof, administratiewe koste en vele meer. Dit kom daarop neer dat die kinderhuis maandeliks R1000 per kind moet insamel om hul boeke te laat klop. ‘n Totale bedrag van R2 miljoen moet dus gedurende hierdie jaar ingesamel word. Kortliks kom dit daarop neer dat die Kinderhuis nou absoluut afhanklik geword het van donasies en skenkings en daarom word elke bydrae hoog op prys gestel. Vanjaar se projek behels geskenkpakkies wat op Vrydag 2 November aan die kinderhuis oorhandig word. Die sluitingsdatum vir pakkies is Maandag 29 Oktober. Die gemeeskap word versoek om ‘n pakkie op te maak vir ‘n meisie en moet die volgende bevat: Aanrol deodorant, kam, naelknipper, naelborsel, handeroom, sjampoe en opknapper, snesies, seepbakkie met deksel en ‘n spesiale bederfie soos lekkers of koekies. Naomi Herbst is verantwoordelik vir die insameling van die pakkies en kan gekontak word by 083 635 9683.