Hartebreker Bobby by skou
THABAZIMBI – Die jong hartebreker Bobby van Jaarsveld klim op Saterdagaand 28 Julie om 19:00 op die verhoog by die Landbouskou en veral die skoner geslag gaan aan sy lippe hang. Bobby is 20 jaar oud en so bykans drie jaar gelede die musiekbedryf betree. Aan die einde van sy Graad 11-jaar het Dozi vir Blackie Swart van hom vertel en Blackie het hom ‘n opname-kontrak aangebied by Blêr Musiek. Sy musiekloopbaan het daarna stadig maar seker begin en alhoewel hy nog ‘n lang pad het om te loop, het hy die afgelope twee jaar baie geleer en gegroei in sy musiek. In November 2006 sluit hy aan by Theuns Jordaan Productions. Die nuwe album behoort in September 2007 gereed te wees vir moontlike vrystelling by AARDKLOP 2007. Sy nuwe album gaan baie van sy eie musiek bevat. Bobby is ook al genomineer vir vier musiektoekennings wat insluit die GMT Geraas-toekenning as Beste Groentjie en drie nominasies in 2006 – ‘n Kanna nominasie tydens KKNK 2006, ‘n Huisgenoot Tempo Nominasie en ook ‘n Vonk Nominasie. Almal vir die katogorie BESTE NUWELING in 2006. Bobby was bevoorreg om saam met Dozi, Robbie Wessels en Theuns Jordaan te toer.