General

Eiendomsagente word streng reguleer

Jana Reinecke Eiendomme

THABAZIMBI – By baie persone bestaan die wanpersepsie dat enigiemand sommer net kan begin eiendomme verkoop. Alle eiendomsagente word egter drie-ledig beheer, naamlik deur die Raad vir Eiendomsagentskapaangeleenthede, deur die Grondwet en ook deur die Gemene Reg. Die Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede 112 van 1976 se doel is om die belange van die publiek in hul onderhandelinge met eiendomsagente te beveilig. Daar is verskeie vereistes waaraan voldoen moet word deur persone wat van voornemens is om ‘n eiendomsagent te word, waarvan die vernaamste is om ‘n Eiendomsagentegetrouheidsfonds-sertifikaat te bekom deur die Raad vir Eiendomsagentskapsaangeleenthede te registreer. Registrasie moet jaarliks hernu word. Hierdie fonds is ingestel om die publiek te vergoed indien hy in sekere omstandighede verliese gely het as gevolg van sy onderhandelinge met die eiendomsagent. Die publiek het die reg om agente wat oortree aan te kla en die Raad sal dan tugstappe teen so ‘n agent neem.