General

Die Frikwensies vier hul tiende jaar met “de(x)a”

THABAZIMBI – Die Frikwensies, die revue-groep van die Hoërskool Frikkie Meyer, gaan vanjaar met hulle produksie, “de[x]a”, weer gehore in vervoering hê. “de(x)a” beteken 10de want die Frikwensies vier vanjaar hulle 10de bestaansjaar. Hoogtepunte van die afgelope 10 jaar sluit in, optredes by Sun City se Extravaganza Teater, Aardklop Kunstefees [ATKVverhoog] sowel as toere en optredes in Namibië, Noord- Kaap, Kwazulu Natal, Mpumalanga, Gauteng, Noord Wes en Limpopo. Die Frikwensies wen dan ook die Nasionale Minimax Revue kompetisie twee jaar agtereenvolgens. Hierdie groep word ook jaarliks genooi om as kunstenaars, tydens ‘n prestige aand by die Staatsteater aangebied deur Kumba Resources vir hul uitgenooide gaste, op te tree. ‘n Mens kan beswaarlik glo dat die hele produksie en tegniese span, uit graad 9 tot 12 leerders bestaan. Hierdie lede behartig self die dekor, beligting en alles wat daarmee gepaard gaan. ‘n Kompliment as gekyk word na die hoë standaard en professionele kwaliteit van die opvoering. Die optrede is in revue-styl met ‘n kombinasie van lewendige choreografie en sang, kleurvolle kostuums, dekor en beligting, met ‘n tikkie komedie. Die program sluit ‘n verskeidenheid in. Hierby ingesluit is ondermeer Chris Chameleon se “Kwaad vir my maat”, Binnelanders, That’s Amore, Jellicle Ball van “Cats” en ‘n keurspel saamgestel uit gunstelinge van die afgelope 10 jaar se optredes. de[x]a verskaf wonderlike vermaak vir die hele gesin teen ‘n baie billike tarief. Die groep tree in Thabazimbi op Woensdag en Donderdag, 15 & 16 Augustus op en kaartjies is reeds beskikbaar by die Algemene kantoor van die Hoërskool. Senior burgers word uitgenooi om Woensdag, 15 Augustus se vertoning gratis by te woon. Belangstellendes moet egter hulle plekke bespreek by mev Johanna vd Berg, tel. [014]7771583]. Verdere vertonings sal ook in die omgewing, tot so ver as Lephalale (Ellisras) gehou word. Die datums is as volg: 22 Augustus – Swartklip 19 September – Ellisras 22 September – Oudlede- vertoning 28 September – Staatsteater, Pretoria.